WAT nou aangaan by TC Newman-daghospitaal is absoluut belaglik.
Mense moet nou in die buitelug wag, in wind en weer.
Ek het op Donderdag 4 Augustus na TC Newman gegaan en was verstom toe ek ’n uur vroeg vir my afspraak was en aangesê is om buite te wag.
Dit was koud en reën het gedreig.
Die rede hoekom ek vroeg was, was omdat ek bang was dat ek nie betyds ’n taxi-rit sou kry om my afspraak na te kom nie.
Die mense van TC Newman moet besef dat mense sukkel met vervoer en nie kan kies hoe laat hulle daar afgelaai word nie.
Daar is ook mense wat ’n siek familielid of iemand in ’n rystoel moet bring. Wanneer jy daar kom, word jy as oppasser van die familielid aangesê om buite te wag op ’n oop stoep. Is hulle van hul sinne beroof?
Hoekom kan die wagtendes nie in ’n beskutte kamer wag nie? Hoekom kan daar nie ten minste stoele en tydskrifte wees om te lees nie?
Wat ’n patetiese situasie het hulle nou geskep vir die publiek wat hulle veronderstel is om te bedien? Skaam julle!
Esmé