EK stem nie saam met die brief “Koningstraat is g’n N1” (Paarl Post 4 Augustus) nie. Ek bly self in Koningstraat en hierdie vragmotorprobleem kom al ’n lang pad.
Nadat my matriekdogter in November haar matriekeksamen moes skryf met vragmotors wat haar menige nag wakker geraas het, het ek die tye wat hulle kom en gaan begin aanteken in my dagboek, met die oog op verdere optrede.
In die week van 3 Desember tot 12 Desember 2010 het ek die volgende tye aangeteken: Sondagnag 23:00 (2 vragmotors kom in), Maandag 04:45 en 05:00 (twee ry uit) en 22:45 (een kom in). Dinsdag 06:40 (vragmotor vertrek). Woensdag 06:00 (vragmotor vertrek) en 19:10 vragmotor keer terug. Donderdag 05:00 vragmotor vertrek asook 15:20 en 17:00. Vrydag 06:30 en 08:48 (vragmotors vertrek), 13:43 en 15:00, vragmotors keer terug. Saterdag 15:00 vragmotor ry in, Sondag 06:50 en 07:17 vragmotors ry uit - dus ’n totaal van 17 ritte in een week.
Hierna het ek met die probleem na verskeie mense gegaan, onder andere my raadslid en die adjunk-verkeershoof. Ek is meegedeel dat dit private grond is en dat die vragmotors nie verbied kan word nie. Daar is ook voorgestel dat ons aansoek doen vir ’n bord wat swaarvoertuigverkeer buite sekere ure verbied.
My vraag is, indien swaar vragmotors in Hoofstraat verbied word, waarom word hulle in ’n stil woonbuurt toegelaat?
Hierdie vragmotors het niks met die vervoer van die plaas se produkte te doen nie, die plaas word nie meer bedryf nie.
Wie maak geld uit die vragmotors wat daar parkeer ten koste van ons inwoners?
Ons kla nie oor die spoed van die vragmotors nie, maar wel oor die geweldige geraas snags en oor naweke.
My huis se slaapkamers is teen die straat, ons boet baie in aan lewenskwaliteit.
Ek doen ’n vriendelike beroep op ons nuwe Burgemeester om hierdie saak vir eens en vir altyd op te los.
Irma Swart (Koningstraat 16)