Wellington student ontwerp seël
2005-10-27
TWEE grafiese studente van die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit se ontwerpe sal aanstaande jaar op die seëlreeks van die Suid-Afrikaanse Poskantoor skitter. Een van hulle, Hantie Engelbrecht, is van Wellington.
Sy en Johan Schutte, albei derdejaar grafiese ontwerpstudente van die skool vir kommunikasiestudies by Puk, se ontwerpe is deur die poskantoor se filanteliedienste gekies om op ‘n reeks seëls, poskaarte en koeverte te pryk.
Johan en Hantie was deel van dertien Pukke wie se ontwerpe oor “Animal tracks - Stories in the sand” vir publikasie oorweeg is.
Mnr. Johan van Wyk, senior bestuurder van filanteliedienste van die poskantoor, sê hulle kon nie tussen dié twee ‘n wenner aanwys nie en het besluit om albei se ontwerpe te gebruik.
Sowat 50 000 van dié seëlreeks gaan gedruk word wat in tot sewentig ander lande bemark word. Dit sal in Julie 2006 vrygestel word.
Die vakgroep grafiese ontwerp van die skool vir kommunikasiestudies het in 2002 onder leiding van Hanri de la Harpe begin om die kuns van seëlillustrasie as deel van hulle illustrasiekuns aan te bied.
In 2003 het die derdejaarstudente die eerste keer aan die Stampex-seëlontwerpkompetisie deelgeneem en tien studente se ontwerpe is as die bestes op die uitstalling aangewys.
Die poskantoor se filanteliedienste het op sterkte van dié sukses onderneem om jaarliks aan die vakgroep ‘n kommissie te gee waartydens studente seëls volgens ‘n voorgeskrewe tema vir die poskantoor ontwerp.
Verlede jaar het ‘n derdejaarstudent, Annemé Boshoff, R20 000 gewen met die tema gebaseer op die unieke ekologie van Tafelberg.
Sy het ook ‘n goue medalje in ‘n drukkerskompetisie in Nieu-Seeland gewen en haar werk is as “wêreldgehalte” beskryf (die poskantoor se seëls word in dié land deur Southern Colour Print gedruk.)
* A Wellington student’s stamp design has been accepted by the SA Post Office.
More
News
|