Blues neem die voortou in liga
2011-08-11
DIE eerste rugbyspan van Laer Paarl (Blues) is die nuwe voorloper in die Paarl-streek, ná ’n skitterende oorwinning die afgelope naweek oor Young Standards. Blues het dié wedstryd 35-18 gewen en met die poging 4 drieë teenoor 2 gedruk. Laer Paarl het reeds in die sewende minuut van die wedstryd die voortou geneem en soos die wedstryd gevorder het, sy oorheersing in al die fasette getoon. Die frustrasie van Young Standards het duidelik geblyk uit die feit dat twee van sy spelers met geelkaarte en een met ’n rooikaart gestraf is. Laer Paarl is ook gestraf met een geel- en een rooikaart. Laer Paarl is nou die nuwe voorloper in die liga en het ’n voorsprong van vier punte op hul naaste teenstanders, Vineyards. Slegs die span van Simondium kon daarin slaag om Laer Paarl hierdie seisoen te klop, en die manne in blou is met elke wedstryd aan die verbeter. In die wedstryd teen Young Standards het Blues se voor- en agterspelers skitterend gekombineer om in die proses vier drieë (bonuspunt) aan te teken. Hoewel dit moeilik is om manne uit te sonder, het veral Charleton Williams, Donnie Fredrick en Kallie Hefca onder die voorspelers uitgeblink en onder die agterspelers het Delwayne Cornelissen ‘n barshou gespeel. Al die spanne in die streek het die volgende twee weke loslootjies en daarna begin die stryd om die ligatitel weer in alle erns met die spanne van Laer Paarl en Vineyards wat in ’n titaniese stryd gewikkel is, en die span van Violets wat nog die kaarte lelik deurmekaar kan krap. Die Blues se tweedes het met 29-26 gewen en die derdes het 18 elk gelykop geëindig.
More
News
|