Groot derbystryd kom Saterdag
2011-08-11
Devidean Moses
DIE ondersteuners van Klein Nederburg Sekondêr (KNSS) en New Orleans Sekondêr (NOSS) kan nie meer wag vir die naweek se tradisionele derbykragmeting wat op Faurestraat-stadion plaasvind nie. Klein Nederburg Sekondêr het vir die afgelope vier jaar agtereenvolgens koning gekraai as derbywenners. Die opgewondenheid en spanning loop hoog oor wie die hoofwedstryd vanjaar sal wen. “Die wenspan is die een wat die druk kan hanteer,” sê Byron Matthews, die o.19A-rugbykaptein van Klein Nederburg Sekondêr. Volgens baie getroue oudstudente van albei skole word hulle gevul met ’n gevoel van trots as hulle hul skole se spelers in aksie sien, wat die wedstryde met eerlikheid, respek en sportmangees aanpak. Albei eerste spanne is slaggereed en sien uit na die hoofwedstryd. “Dit sal nie ’n maklike wedstryd wees nie, maar ons sal beslis nie terug- staan vir Klein Nederburg Sekondêr se o.19A- span nie, nee ons gaan ons beste lewer,” beloof Byron Walters van New Orleans Sekondêr. Saterdag 10:00 sal die o.14-rugbyseuns die eerste spelers vir die dag wees. Hulle word gevolg deur die o.15-span om 11:05 en die o.16-seuns om 12:20. Die NOSS pom-pom meisies (swart en wit) tree om 13:35 op om die skare met hul dansvertonings te vermaak, terwyl KNSS se meisies (blou, geel en wit uitrustings) teen 15:30 hul beurt sal kry om te dans. Die amptelike seremonie skop om 15:40 af waar albei skole asook oudstudente weer die geleentheid kry om uit volle bors die skoolliedere te sing. Daarna om 16:00 sal die harde stryd tussen die o.19A-spelers afskop.
More
News
|