Veelsydige kunstenaar maak naam
2011-08-11
ALHOEWEL Dawid Toua reeds sedert sy kinderjare skilder, het hy eers drie jaar gelede vir die eerste keer by Houtstraat Galery uitgestal en sedertdien is daar baie belangstelling in sy werk. Dié Paarlse kunstenaar se werke het reeds hul tuiste in lande soos Engeland, Amerika, Frankryk en Indië gevind. Vroeg in sy hoërskoolloopbaan het hy reeds besluit dat kuns sy professie sou word en ná sy weermagverpligtinge het hy ’n nasionale diploma in grafiese kuns aan die Kaapse Technikon voltooi. Hy het sy professionele loopbaan begin by die advertensiemaatskappy IMA in Kaapstad. Omdat hy deurgaans dit steeds oorweeg het om ’n kursus in beeldende kunste te doen, het hy na twee en ’n half jaar die agentskap verlaat en aangesluit by die Kaapse Provinsiale Administrasie as museumkunstenaar. Hy het gewerk vanuit Jonkershoek, buite Stellenbosch. Dié posisie het hom meer tyd gegee en hy het beeldende kunste deur Unisa gestudeer met skilder as hoofvak. In 2000 het Dawid besluit om sy eie grafiese ontwerpatlejee in die Paarl te begin, DT Design. Dawid se kuns is verrassend uiteenlopend, maar in die geheel handel sy temas oor mense en hul onmiddellike omgewing. Hy doen ook portretstudies en historiese skilderwerk, veral opdragwerke, wat handel oor die historiese geboue van die Paarl en omgewing. Meer aan die kommersiële kant illustreer Dawid vir ’n weeklikse Suid-Afrikaanse tydskrif en doen ook illustrasiewerk en spotprente vir ’n bekende wyntydskrif. Behalwe vir die visuele kuns het hy ook al ’n aantal museum- en nywerheidsuitstallings gedoen. Hy het selfs ’n lewensgrootte walvis afgegiet en ’n glasveselmodel daarvan gemodelleer, verskeie diere opgestop, was deel van ’n span wat ’n Bradysaurus-fossiel opgegrawe het en modelle gebou het van die uitgestorwe Atherstonia vis wat in die Karoo voorgekom het. Hy was betrokke by die ontwerp en bou van die Paarlberg NG Kerk se preekstoel, die voorstelling van die naam en die logo ontwerp van die Cape Cobras krieketspan, die ontwerp van die Roodeberg etiket, die illustrasie van die Dros restaurante waar hy se geliefde kat bygewerk het, die ontwerpe vir die laaste drie Drakenstein Herlewingsfeeste, en die ontwerp van die Wellington-rugbyklub gedenkuitgawe onder meer. Dawid bedryf steeds sy ateljee bedags en skilder in die aande. Hy en sy vrou Elsabé het twee seuns en een kleinkind. Van sy werke is tans te sien by die Houtstraat Galery se Wintergala-uitstalling, wat Maandag ten einde loop.
More
News
|