Geen doele in titaniese stryd
2011-08-11
DIE o.19A-hokkiespanne van Hoër Meisieskool Paarl (HMS) en Hoërskool Gimnasium was verlede Vrydagmiddag in ’n titaniese stryd gewikkel tydens hul 2011 interskole-wedstryd. Die wedstryd het met 0-0 gelykop geeïndig. Gedurende die eerste helfte het Gimnasium die spel oorheers, maar ná halftyd het die HMS-meisies teruggekom en die Gimmies behoorlik laat sweet. Daar was ’n paar naelbyt-oomblikke aan albei kante en ’n gelykopuitslag was ’n goeie weerspieëling van die wedstryd. Tasha van den Aardweg van HMS het die Gimmie-spelers behoorlik laat bontstaan en hulle gefrustreerd gelaat. Gimnasium was vanjaar weer eens die gunsteling, maar HMS het met ’n geweldige spanpoging vorendag gekom en uitstekende hokkie gespeel.
More
News
|