Solomon Cupido 'joke' nie net nie
2011-08-11
Liezl Davids
SOLOMON CUPIDO hou deesdae sy lyf akteur en het al in verskeie flieks sy verskyning gemaak. Dié gebore Paarliet se mees onlangse fliek Ek joke net, sorg vir groot vermaak. In Ek joke net bak hy poetse op niksvermoedended lede van die publiek. Cupido speel verskeie karakters in die fliek en selfs Dozi het al deurgeloop onder sy poetsbakkery. Volgens Cupido wou mense hom al ’n paar keer bydam, maar het hy mettertyd geleer wanneer hy moet ophou. Hy was die meeste van sy hoërskoolloopbaan by Hoër Jongenskool in die Paarl en het graad 11 en 12 by New Orleans Sekonêr voltooi. “Ek het besluit om New Orleans toe te gaan om drama as vak te neem. New Orleans het my begeerte om drama as loopbaan te kies, versterk.” Cupido het grootgeword in die Valley Christian Fellowship kerk en het sy eerste toneelstuk by die kerk opgevoer. Volgens hom was dié kerk die plek waar hy die grootste platform gekry het om sy kunste uit te leef. “By New Orleans het ek ook begin skryf aan my eie toneelstukke. My eerste professionele produksie in die Paarl was ‘Wiet jo ma...?’. “Dit is ’n tweemanstuk wat deur myself en Bradley Olivier geskryf en opgevoer is by kerke, skole, teaters en tronke.” Hy het sy eerste jaar in dramastudies voltooi by Northlink College in Tygerberg en is een van vyf wat gekies is om sy studies te voltooi by die Tshwane Universiteit van Tegnologie. Cupido het gesê dat omdat hy gewoond was aan teaterwerk was dit vir hom ’n groot aanpassing om voor die kamera te werk. “My passie is teaterwerk. Ek geniet die verhoog meer as kamerawerk.” Sy eerste fliek was Karate Kallie (2008) waarin hy die rol van Errol vertolk het. Die tweede fliek waarin hy te sien was, is Bakgat 2 (2009) waar hy die rol van Borrie vertolk het. In 2010 het hy Superhelde geskiet waarin hy die rol van Wayne vertolk het. “Ek is tans besig met die produksie Alice in Wonderland by die People’s Theatre in Johannesburg. Intussen is ek besig met repetisies vir die produksie Die ontmoeting van Spacekriek en Dakskroef wat tussen 1 en 4 September in die Paarl opgevoer sal word. “My eerste professionele optrede was in Egoli (2007) waarin ek ’n klein rol vertolk het. My eerste professionele verhoogrol was as Baloo in Jungle Book (2008) by die Emperor’s Palace.” Wanneer hy darem ’n blaaskans kry, kyk hy graag flieks, gaan gimnasium toe, woon teaterproduksies by en kuier met sy vriende. “My droom is om eendag erkenning te kry vir die werk wat ek doen, om regoor groot name in die industrie op te tree, nasionaal en internasionaal. Ook om mense positief te beïnvloed deur die kunste.” Die ontmoeting van Spacekriek en Dakskroef” is vanaf 1 tot 4 September by die Ou Meul-teater te sien. Vir navrae en kaartjies, skakel Francios by 076 419 3464 of stuur ’n epos na bookings@solomoncupido.co.za.
More
News
|