Kotze se saak sloer steeds
2011-08-11
Lise Beyers
MEER as vier jaar nadat ’n egpaar wreedaardig op hul wynplaas aangeval is, sloer die hofsaak steeds. Trevor en Joan Ernstzen van die plaas Le Fût in Klein Drakenstein is in 2007 op hul plaas aangerand tydens ’n onenigheid oor die uitsetting van ’n plaaswerker. Die Ernstzens het ’n wettige hofbevel gekry om ’n plaaswerker van hul plaas te laat afsit. Die dag van die aanval het die balju by die plaas aangekom om hierdie bevel uit te voer. Nadat die werker en sy besittings weg is, het ’n oproerige skare onder leiding van die toe ANC-raadslid, Dan Kotze, op die plaas gearriveer. ’n Bakleiery het ontstaan en tydens die voorval is Trevor so erg geskop en geslaan in die gesig dat hy breinskade opgedoen het. Sy vrou Joan is ook beseer. Ná verskeie hofverskynings is die saak van die rol geskrap hangend ’n beslissing van die Direkteur van Openbare Vervolging. In 2008 is daar wel besluit om Kotze te vervolg vir twee sake van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Hierna is die saak keer op keer uitgestel in die Paarl Landdroshof. Die saak het uiteindelik op dreef gekom en Kotze is in Desember verlede jaar skuldig bevind op twee klagtes van aanranding. Die landdros, André Fourie, het tydens sy uitspraak gesê dat weens die erns van dié saak, moes dit eintlik in die streekhof verhoor word, en dat indien Kotze “reg aangekla” was, sou hy ten minste op een klag van poging tot moord skuldig bevind gewees het. Die saak is na die Paarlse Streekhof verwys vir vonnisoplegging. Maar verlede week is die saak weer op sy kop gedraai, toe die saak voor streeklanddros Morajee Naik gedien het vir vonnis. Naik het aangedui dat hy van oordeel is dat daar aspekte is wat daarop kan dui dat ingevolge artikel 116(3)(a) van die Strafproseswet, Wet 51 van 1977, verrigtinge nie ooreenkomstig die reg geskied het nie. Hy sal nou vir Fourie nader om redes rakende hierdie aspekte te vra. Die saak is vir hierdie doel uitgestel na 13 September. Indien, na ontvangs van die hierdie redes, Naik van mening is dat verrigtinge wel volgens die reg geskied het, sal hy die saak afhandel. Maar indien hy nie tevrede is met die redes wat aan hom verskaf is nie, sal hy die rekord van verrigtinge, tesame met redes vir sy twyfel, na ’n hoër hof verwys om te beslis of die verhoorlanddros die saak korrek hanteer het. Indien die Hoër Hof nie oortuig is dat die verhoorlanddros reg opgetree het nie, kan Kotze se skuldigbevinding tersyde gestel word en die verhoor kan van nuuts begin. Intussen sit Kotze weer op die Drakenstein Munisipaliteit se stadsraad, dié keer as Sapco raadslid. Indien Kotze tronkstraf opgelê word, sal hy die Raad moet verlaat. * After more than four years, the court case against a municipal councillor seems to be far from over.
More
News
|