Supermark van duisende rande beroof
2011-08-11
’n NOORDER-PAARLSE supermark is duisende rande kwyt nadat diewe vroeg Sondagoggend die winkel geplunder het. Diewe het omstreeks 02:00 toegang tot Seven Days Supermark gekry deurdat hulle deur die dak gebreek het. Hulle het die telefoondrade, asook dié van die alarmstelsel geknip om sodoende die alarmstelsel te deaktiveer. Hulle het, gewapen met ’n elektriese hoekslyper, hul pad na die kantoor gevind en deur die metaalkluis gesny. Sowat R150 000 is gebuit, asook ’n groot aantal bokse sigarette. Volgens beeldmateriaal van sekuriteitskameras het die diewe in ’n minibus gevlug. Polisie is tans besig om hierdie beeldmateriaal te fynkam vir leidrade wat hulle na die skuldiges sal lei. Daar is vele ooreenkomste tussen hierdie inbraak en een wat oor die Paasnaweek vanjaar by die Standard Bar in Huguenot plaasgevind het. Diewe het hiér ook ’n hoekslyper gebruik om die kluis oop te sny om die kontant te steel. Sigarette is ook tydens die rooftog gesteel. Enige inligting kan deurgegee word aan kapt Louise du Plessis by 082 850 9614. Seven Days eienaar, Braam Nortier, het gesê dat hulle die hele rooftog op sekuriteitskameras vasgelê het. Hy bied ook ’n hewige beloning aan, aan enigiemand wat inligting het wat sal lei tot die suksesvolle vervolging van die diewe.
More
News
|