Man vind fiets, maar polisie stel nie belang nie
2011-08-11
DIE slagoffer van ’n gewelddadige fietsroof het eiehandig sy gesteelde fiets opgespoor, maar dit blyk dat die polisie nie belang stel om verder ondersoek in te stel nie. ’n Plaaslike fietsry-entoesias, Rodney Kitching, is twee maande gelede aangeval en van sy fiets beroof in Brugstraat, Paarl. Sy aanvallers het vroegoggend in ’n motor op hom afgepyl en hom van sy fiets afgery. Hulle het hom weer probeer omry, maar hy het daarin geslaag om oor ’n muur te klim na veiligheid. Hierna het die rowers Kitching se bergfiets ter waarde van R9000 in die kattebak van hul motor gelaai en weggejaag. Niks het van Paarl polisie se ondersoek gekom ná die voorval nie. Maar verlede week was Kitching besig om die webtuiste se snuffelgids, Gumtree, te snuffel vir ’n billike aanbod op ’n bergfiets. Tot sy verbasing het hy op sy eie fiets wat as te koop geadverteer was, afgekom wat vir ’n skamele R4 500 geadverteer is. “Ek het my fiets dadelik herken. Ek het verskeie aanpassings aan die Merida bergfiets gedoen soos om die handvatsels te verstel en ’n nuwe sitplek op te sit.” Hy het die adverteerder gekontak om navraag te doen oor die fiets en hy het gesê dat Kitching slegs ná 17:00 na die fiets kan kom kyk in die Strand. Die man het ook eers aan hom gesê dat hy die fiets by ’n vriend gekry het. Maar daarna het hy sy storie verander dat hy die fiets by ’n handelaar in Somerset-Wes gekoop het. “Ek het die Paarl polisiespeurder wat betrokke was by die saak gekontak en hom hieroor ingelig. Maar toe ek vir hom sê dat ons dide verdagte eers ná 17:00 kan sien, het hy gesê dat hulle nie na ure werk nie.” Toe Kitching die adverteerder later weer kontak, is hy vertel dat die fiets klaar verkoop is. “Ek het die telefoonnommers van die verkoper asook die nuwe eienaar, maar die Paarl polisie wil nie die saak verder ondersoek nie.” Provinsiale polisie woordvoerder a.o. November Filander, het gesê dat hulle kennis neem van die saak en dat die adverteerder van die fiets gekontak is. Hy het bygevoeg dat enige klagtes teen die polisie se optrede aan die stasiebevelvoerder gerapporteer moet word. Fietsryers word landwyd al hoe meer deur diewe geteiken, veral bergfietsryers wat in meer afgeleë gebiede fietsry. Nie net teiken diewe fietryers se duur fietse nie, maar beursies en selfone ook. * A mountain-biker who was attacked and had his bicycle stolen two months ago, tracked down his bike after noticing that it was being sold on the internet. A Paarl detective however indicated that he was not interested in further investigating the matter if it entailed work after hours.
More
News
|