Arsenaal gevind op Bainskloof
2011-08-11
Lise Beyers
LEDE van die polisie se blitspatrollie het verlede week op ’n ‘klein arsenaal’ afgekom in ’n plastieksak op Bainskloof. Dit was terwyl hulle ’n roetine patrollie gery het en by ’n grondpad naby Antoniesvlei afgedraai het. Daar word dikwels aan die polisie gerapporteer dat prostitusie en dwelmbedrywighede hiér plaasvind. ’n Plastiek-winkelsak het die oog van die beamptes gevang en by nadere ondersoek is daar talle AK47 en 30.06 patrone daarin gevind, asook magasyne vir AK47 aanvalsgewere. Die magasyne is geroes en daar vermoed dat die sak al ’n geruime tyd daar gelê het. Wellington polisie stel nou verdere ondersoek in om vas te stel of die ammunisie deel uitgemaak het van ’n gewapende roof in 2009 op Malmesbury wat in Wellington gedraai het. In Februarie 2009 het gewapende rowers ’n voertuig van Coin Sekuriteit aangeval op die pad tussen Malmesbury en Riebeek-Kasteel. Hulle het met vuurwapens losgetrek op die voertuig en die bestuurder gewond. Ongeveer R12 000 is vanuit die transito-voertuig gesteel en die rowers het in ’n wit Toyota Corolla weggejaag in die rigting van Wellington. Die voertuig is verlate in die Bainskloofpas gevind, maar daar was geen teken van die voortvlugtiges nie. ’n Week later het mense wat in Bainskloof hout gekap het, op ’n verlate AK47 afgekom en dit verkoop aan ’n persoon wat in Versaillesstraat woonagtig is. Nadat die polisie hierdie inligting ontvang het van ’n lid van die publiek, het hulle toegeslaan op ’n woning in Versaillesstraat waar hulle die vuurwapen gevind het. Foota Thyse en Tino Granger is in hegtenis geneem, maar hulle is nie verbind met die transito-roof nie. * A small arsenal of ammunition was discovered in Bain’s Kloof which may have been used in an armed robbery in Malmesbury more than two years ago.
More
News
|