VOOR ons ons oë uitvee, is dit die einde van die jaar en dan, ja, dan begin die gekkeparadys wat hom jaar na jaar in die meeste van ons skole afspeel - skole se punte wat “aangepas” moet word.
Basies word leerders wat nie verdien om na die volgende graad te vorder nie, wel “oorgeplaas”.
Of klein Jannie kan lees of skryf of somme maak, is nie ter sprake nie!
Of klein Jannie bewys is van sy eie tekortkominge en of hy/sy volgende jaar nuwe maniere sal moet uitvind om dit weg te steek, tel eenvoudig nie!
Of klein Jannie dringend gespesialiseerde hulp benodig om sy tekortkominge te oorbrug, is ook nie ter sprake nie!
Solank die skool se “punte” net nie sleg lyk nie, is alles “honkie-dorie”.
Ek is moeg van stroom-op-swem... moeg van sukkel met leerders wat as gevolg van hul hindernisse klasse op allerlei maniere ontwrig.
Ek is keelvol vir ’n stelsel wat deeglik bewus is van die swakhede in sy mondering, maar steeds jaar na jaar voortploeter met sy onsinnige optrede.
Menere, juffrouens, julle doen julle land ’n groot onreg aan... is julle dalk die direkte oorsaak van baie van die dissiplinęre probleme waarmee opvoeders daagliks opgeskeep sit?
Stop asseblief die slaafse navolging van onsinnige departementele beleid en begin optree in die belang van ons kinders, ons land, ons toekoms en, ja, ook ter ere van hom (Nelson Rohlihlahla Mandela) wat 93 geword het!
Ons kinders verdien die beste!
As hulle hulp benodig, kom ons loop die ekstra myl om te verseker dat hulle die ondersteuning, hulp en aanmoediging wat hulle benodig, kry.
Vir ’n leerder om te faal.. om ’n jaar te herhaal, is nie ’n skande of vloek nie! Inteendeel, dit help hulle net verder.
Om kinders wat hulp nodig het nie te help nie, wel!
Onnie