AS ek aan Radio KC dink, dan kom die herinneringe terug van die 30 dae lisensietydperke, die buite-uitsendings vanaf die karnavalle en Aunty Poppie, Belinda en James se daaglikse oproepe op die radio.
Ek onthou die vroeë dae van Radio KC en Koinonia.
Van vroegoggend was die meeste radio’s ingeskakel op “The Early Morning Breakfast Show” tot laataand as “Wysheid van die Grysheid” opkom.
Dit was die dae wat soveel mense “Radio KC” geniet het en het dus hoë gemeenskapsbetrokkenheid getoon.
Die afgelope paar jaar met die nuwe bestuur het dié soort goed net agteruitgegaan. Mens sal meer as net familielede en faksies in so ’n gemeenskapsorganisasie wil sien. Musiek vir almal, programinhoud, taalgebruik en professionele radio-etiket laat tans veel te wense oor.
Ek doen ’n beroep op die huidige bestuur om afstand te doen van die idee om met Radio KC se erfenis (sy naam) weg te doen.
Die fokus behoort eerder op gemeenskapsbetrokkenheid, kwaliteit-programinhoud en sinvolheid te wees.
Die leuse lui “Radio KC, the Sound that Sets you Free”, maar ek voel die radio is reeds sedert die begin van die huidige bestuur se bewind onder arres.
Boland FM gaan vir niemand iets beteken nie as dinge maar net so voortgaan en die bestuur slaap voort terwyl die luisteraars en radiobelangstellendes verder uitgesluit en weggewys word.
Ek doen ’n beroep op alle KC-landers om “Radio KC” te behou.
Ontevrede