EK en my vriendin stap vroeg soggens met ons honde vir oefening en om die vars lug en stilte te waardeer.
Al geselsende stap ons af in Faurestraat, net om op die hoek van die munisipale gebou bestorm te word deur vlugtende voetgangers. Die besef dring vinnig deur dat hulle vlug – ons word ook bestorm – deur ’n mal juigende skare stakende munisipale werkers, met stokke beman en aan die klipgooi in ons rigting. Ons vlug toe maar ook uit instink en vat die pad (ek dink ek was los voor).
Bewend en adrenaliengevul, praat ons met mekaar en die res van die verjaagdes. Wat gaan aan? Woon ons dan nou in Londen?
Ek het nooit gedink ek sal die dag aanskou waar ek uit my eie buurt gedryf word voor stakers nie. Waar is ons beskermers, waar is die polisie? Kan die skare dan nie in toom gehou word nie?
As hulle wil staak, is dit gaaf, maar beheer die skare, hou die onskuldige burgers veilig! Of is die stakers in beheer?
Volgende keer gaan hulle dieselfde doen, of erger, want niemand stop hulle nie, en hulle kry maar weer hulle sin.
‘Breek af, verbrand, verdryf, maak seer – moenie bekommerd wees nie, dit is alles vir our cause to get more money. And it works, every time…’
Louise