Wellington VGK Kerk vier fees
2011-08-18
DIE Verenigende Gereformeerde Gemeente Wellington vier die naweek van 22 tot 25 September die 70ste jaar van die gebruik van die kerkgebou in Mellingstraat, Wellington. Die gebou is in 1941 opgerig, nadat die gemeente gedwing is om te verhuis uit hul oorspronklike kerkgebou in Kerkstraat wat in 1845 opgerig is, ten spyte van langdurige onderhandelings met die kerkraad van die Moederkerk (1933-1940). Die grond het die eiendom van die NG Kerk geword. Uiteraard is daar baie sentiment oor die terrein. Dis waar die NG Sendingkerk in SA in Oktober 1881 gestig is met Wellington as een van die stigterslede. Die gebou is gesloop kort ná die ingebruikneming van die nuwe kerkgebou op 28 September 1941, ten spyte van pleidooie dat dit behou moet word as ’n Sinodesaal vir die NG Sendingkerk. Vir 70 jaar is nooit formeel deur die twee kerkrade oor die gebeure gepraat nie. Vanjaar is as versoeningsjaar deur die VG Kerk uitgeroep en ná samesprekings met die NG Kerkraad is daar besluit om gesamentlik te werk aan versoening rondom die gebeure. Op Donderdag 22 September om 19:00, word ’n versoeningsdiens gelei deur prof Nico Koopman van die Teologiese Fakulteit, Universiteit Stellenbosch. Die diens word voorafgegaan deur ’n fakkelloop vanaf die Wagenmakersvallei VG Kerk (1820 ) tot by die perseel op die hoek van Hoof- en Kerkstraat waar die ou kerk gestaan het. ’n Versoeningsfakkel word voor die Mellingstraatkerk aangesteek en ’n versoeningsgebaar sal gedoen word. Die afgevaardigdes van die twee kerkrade het ook op ’n plan van toekomstige samewerking besluit, wat nog verder ontwikkel sal word in aksieplanne.
More
News
|