Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Roses reken af met Wesbank

Roses reken af met Wesbank
 
2011-08-18


ROSES UNITED het verlede Saterdag op Malmesbury die span van Wesbank in ’n Boland-rugbyunie Premierliga-wedstryd met 29-21 geklop.

Om verdere sout in die Wesbankers se wonde te smeer, het hulle ook ’n bonuspunt verdien tesame met die gewone ligapunte vir die wen. Die Rose het met dié sege verseker dat hy nou weer die alleenvoorloper is op die punteleer met 64 punte.

Roses het ook een wedstryd minder gespeel as hulle naaste teenstanders, Wesbank, wat die tweede plek beklee met 59 punte.

Verlede Saterdag se wedstryd was weer, soos gewoonlik tussen Roses en Wesbank, ’n titaniese stryd voor-en agterlangs. Veral voorlangs het beide spanne se pakke voorspelers klipharde spel gelewer.

Vir die Wellingtonners was dit hulle kaptein, Sandile Sijaji wat ’n barshou gespeel het. Hy is goed bygestaan deur die omgesukkelde haker, Ashton Constance.

Laasgenoemde het weer eens beïndruk met sy kraglopies en goeie algemene spel. Alrich Erasmus, Roses se vaskopflank, het ook die veld vol gespeel.

Die res van die pak voorspelers het ook hulle kant gebring en talle aanvalle van hulle teenstanders in die kiem gesmoor met skitterende lakwerk.

Die Wesbankers se lywe is seker nou nog styf ná die Wellingtonners se puik duikwerk.

Agterlangs was die groot uitblinker die skrumskakel, Neville Adams. Adams het puik vertoon agter die ligter Roses-pak en het ook sy spel skitterend afgewissel. Boonop het hy nie geskroom om die Wesbankers fisies aan te vat nie.

Die Rose se twee vleuels, Denver Fortuin en Alistair Kettledas, het ook hulle teenstanders gedurig oorhoops gehad met puik aanvalle. Kettledas het veral beïndruk met sy kraglopies terwyl die onvoorspelbare Fortuin die Wesbankers gedurig aan die raai gehad het met bedrieglike systappe.

Vir die Rose het Ashton Constance, Gradwell Samuels, Martin Nell en Brandon April elk ’n drie gedruk. Wayne Matthee was suksesvol met 3 doelskoppe en een strafskop.

Die Rose speel eerskomende Saterdag teen Saldanha op laasgenoemde se veld. Die Rose sal hierdie week wil skaaf aan hulle skrumwerk aangesien hulle ietwat swaar gekry het in die skrums in verlede week se wedstryd.

Boonop beskik Saldanha oor ’n baie swaar agtal wat die Rose se skrumwerk behoorlik op die proef gaan stel. Die Wellingtonners durf dus nie die tuisspan onderskat vir eerskomende Saterdag se wedstryd nie.

Busse vir Saterdag se wedstryd op Saldanha vertrek om 10:00 vanaf Klaasenstraat in Wellington.




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za