Oorbel-dief gegryp
2011-08-18
Lise Beyers
’n VERMEENDE dief is verlede week vasgetrek met sy slagoffer se oorbelle in sy ore. Die voorval het plaasgevind enkele dae ná ’n huisbraak in Groenvlei, Noorder-Paarl. Hiér het ’n man toegang tot ’n woning in Rupestrisstraat verkry. Hy het eers die venster gebreek, waarna hy die diefwering uitgeskop het. Toe die eienaar van die woning by die huis kom, was die dief reeds weg met sy buit. Hy het egter voetspore nagelaat op die matte. Die dief het hom behoorlik gehelp aan waardevolle items. Hy is weg met ’n skootrekenaar, digitale kameras, juweliersware en selfs whisky en reukwater. Hy het hierna spoorloos verdwyn. Maar verlede Sondag het die huiseienaars twee verdagte mans sien wandel in die parkie langs hul huis. Hulle het die sekuriteitsmaatskappy AC Rottweiler geskakel en Jeffrey Appollis en Ricardo Petersen was vinnig op die toneel. Die mans is aangekeer en ondervra. Verskeie goedere, insluitend die reukwater, is in hul besit gevind. Een van die verdagtes het ook oorbelle in sy ore gehad wat aan die huiseienaar behoort. Die polisie is in kennis gestel, maar die een verdagte het daarin geslaag om uit die greep van die sekuriteitsbeamptes te ontsnap. Ná ’n jaagtog te voet is hy egter kort hierna deur die polisie in hegtenis geneem. Nog gesteelde goedere is in sy besit gevind, maar daar is geen teken van die elektroniese toerusting nie. Andy Ruiters (22) en Jacques Hendriks (20) is in verband met die diefstal in hegtenis geneem. ’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat huisbrake aan die toeneem is en dat huiseienaars alles in hul vermoë moet doen om hul wonings veilig te maak. * An alleged thief was arrested last week, still with his victim’s ear-rings in his ears.
More
News
|