DIE Dorkas-vroueklub in die Paarl en Wellington en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument het ’n samewerkingsooreenkoms gesluit.
Dit behels ondersteuning van die klub se handwerkprojekte en sopkombuis, borgskap van busvervoer om die Taalmuseum en monument te besoek en ’n jaarlikse kompetisie om Afrikaanse vroue van Drakenstein te vereer.
Die sperdatum vir nominasies vir die Afrikaanse Vroue van die Jaar-kompetisie is 30 September.
Enigeen kan vroue van Drakenstein nomineer in drie kategorieë, naamlik opvoedkunde, gemeenskapswerk en entrepreneurskap. Sertifikate sal oorhandig word aan drie vroue in elke kategorie en die kategoriewenners sal heerlike bederfpryse wen en getrakteer word op ’n uitstappie na die Taalmonument.
Die nominasievorms is beskikbaar by die Dorkas-vroueklub, by die Taalmuseum en op die webwerf www.taalmuseum.co.za.
* ’n Naaldwerkmasjien, materiaal en materiaalverf is op 9 Augustus aan die Dorkas-vroueklub oorhandig tydens hulle jaarlikse Vrouedagfunksie in die Huguenot-gemeenskapsaal. Van die materiaal sal aangewend word vir ’n projek om “hot boxes” te maak wat kragbesparing en die maak van ekonomiese disse aanmoedig. Dié projek is moontlik gemaak deur ‘n borgskap wat vroeër vanjaar van die voormalige burgemeester, Charmaine Manuel, ontvang is vir ’n vrouedagprojek in Paarl-Oos.
Die Taalmuseum se Borg-’n-Bus-projek, ondersteun deur die nasionale Departement van kuns en kultuur, het oor die afgelope ses jaar vervoer vir meer as 6 000 besoekende leerders geborg. Dié projek word nou uitgebrei om aan vroue van die Drakenstein-gemeenskap, in samewerking met die Dorkas-vroueklub die geleentheid te bied om begeleide toere by die museum en piekniekgeleenthede by die monument by te woon. Kontak Amira by 021 872 3441.