Spogaande vir matrieks is hier
2011-08-18
MATRIKULANTE regoor die vallei maak gereed vir die spoggeleentheid waarna hulle nou al hul hele hoërskoolloopbaan uitsien - die matriekafskeid. Sekere jongmeisies en seuns weet al van die begin van die jaar presies wat hulle gaan aantrek en ander besluit natuurlik op die laaste nippertjie en dan moet ma en pa omtrent rondstaan. Maar die opgewondenheid oor die matriekbal tel nie net vir die leerders nie, maar die hele familie maak gereed vir dié groot aand. Die meeste meisies gaan vir die stylvolle prinses-voorkoms en ander kry natuurlik hul ontwerpe van die Amerikaanse sterre se style. Maar ’n elegante aandrok of aandpak wat jou figuur komplimenteer bly ’n wenner. Vanjaar laat die modegier jou toe om byna enige kleur onder die son te kies. Pienk en pers en skakerings daarvan is steeds baie gewild onder die meisies. Vir die manne is ’n swart en nou selfs grys pak in die kol. Die twee metgeselle moet net seker wees dat die een die ander een se uitrusting komplimenteer. Haarstyle is deesdae minder formeel, met los krulle. Dit is altyd goed om verskillende style te toets en te kyk watter een lyk die beste by jou en wat jou rok komplimenteer. Grimering is ook baie belangrik, onthou net te veel daarvan lyk nooit goed nie. Sodra die skoene gekoop is en die rok is voltooi, trek jou hele uitrusting aan en vra dan iemand wat jy vertrou om eerlik met jou te wees en sy of haar opinie te gee oor hoe jy lyk. Kyk dan na jouself in die spieël en besluit of jy gelukkig is met jou voorkoms. Die seuns moet ook vooraf hul uitrustings aanpas om seker te maak alles sit nommerpas. Met al die mooi klere en motors wat gehuur moet word, kos ’n matriekafskeid ’n hele paar rand vir die ouers, maar ma en pa kan seker nie ontken dat hulle ook baie uitsien na dié groot affêre nie. Bridge House en Weltevrede Sekondêr het reeds hul matriekafskeide gehou en die res is as volg: ) Noorder-Paarl Sekondêr is op 23 Augustus in die Paarl Stadsaal. ) Desmond Tutu Sekondêr is op 31 Augustus by Boschenmeer. ) Hoër Meisieskool is op 1 September by Nantes Estate. ) Hugenote Hoërskool is op 3 September in die skoolsaal. ) Bergrivier Sekondêr is op 28 September in die Wellington Stadsaal. ) Klein Nederburg Sekondêr is op 29 September. ) Hoërskool Gimnasium is op 30 September in die skoolsaal. ) New Orleans Sekondêr is op 30 September in die Paarl Stadsaal. ) Charleston Hill Sekondêr is op 4 Oktober in die Paarl Stadsaal. ) Hoër Meisieskool La Rochelle is op 12 Oktober by Kronenburg. ) Franschhoek Hoërskool op 12 Oktober. ) Groendal Sekondêr op 13 Oktober in die Franschhoek Stadsaal. ) Labori Hoërskool op 14 Oktober in die Paarl Stadsaal. ) Boland Landbouskool op 15 Oktober in die skoolsaal.
More
News
|