Bang gery deur motorkaper
2005-03-24
OM bang gery te word in jou eie motor is erg, maar as die kaper ’n gewapende rower is, is dit erg traumaties.
Dit het met twee studente van Wellington, JP Rust en Jannie Janse van Rensburg, gebeur toe hulle die Saterdag op Stellenbosch gaan kuier het.
JP (van Lützville) en Jannie (van Riversdal) sou vriende ontmoet, maar weens ’n misverstand stop hulle toe by die Friendly Seven Eleven by die R44 ingang na Stellenbosch. JP het om 21:40 op sy selfoon buite die motor gepraat, toe ’n man hom nader.
“Ek het gedink hy soek brood, toe sê hy ek moet my geld gee, of hy skiet my vrek.
“Dis so ’n besige hoek, maar op daardie oomblik was selfs die sekuriteitsman in die winkel,” onthou JP.
Die rower het die motor se sleutel uitgetrek en JP en Jannie moes hul sakke uitdop.
“Die man het gesê hy sal ons uitlos as ons hom gaan aflaai, en toe klim hy agter in.”
Op pad na Kayamandi moes JP in die pikdonker van die pad aftrek en sy selfoon en horlosie afgee.
“Die man het aanmekaar gedreig om ons te skiet,” sê Jannie. Die kaper het self agter die stuur ingeskuif en in Kayamandi ingejaag, oor ses stopstrate.
“Ek het nie geweet die BMW kan so vinnig om draaie sonder om te rol nie."
By ’n outobank in Kayamandi moes eers JP en toe Jannie elk R500 trek.
“Elke keer as ek my hand op die deurknip gesit het, het hy gedreig om te skiet. Toe ons uiteindelik weer in Stellenbosch self kom, en hy vir ’n verkeerslig stop, toe spring ek uit,” sê JP.
Jannie, wat agter gesit het, het sekondes later in die ry uitgespring en harsingskudding opgedoen.
Ander motoriste het die twee wat om hulp roep, geïgnoreer. Sê Jannie: “Seker gedink dis Stellenbosse studentepret.
“Ons het die bande hoor skree en toe ’n slag, soos die rower ’n ent van ons af teen die middelmannetjie vasgejaag het.”
Die kaper het weggehardloop.
“As daardie verkeerslig nie rooi was nie, waar sou ons wees,” wonder die vriende.
“Die ergste was die ryery. Jou hart klop. Jy voel bewerig. En nou sukkel ons om te slaap. Ons is net dankbaar dat ons dit oorleef het.”
Nou wil die studente ander waarsku om op hul hoede te wees: “’n Mens kan nie té versigtig wees nie.”
* Two Wellington students were hijacked in Stellenbosch
More
News
|