Tweede 100-tal vir De Vries
2005-10-27
’n TWEEDE honderdtal deur Morné de Vries was Saterdag die groot bydrae tot Bergrivier Krieketklub se sewe paaltjie sege oor Malmesbury.
Die eerste span van Bergrivier het die afgelope paar seisoene gewys dat hy op sy beste is wanneer hy ’n totaal moet jaag, en Saterdag weer dié feit duidelik geïllustreer op hul tuisveld.
De Vries het met ’n onoorwonne 129 lopies die besoekers behoorlik deurmekaar geslaan en in die proses ook die beste vertoning in die klub deur West Goetham (123) verbeter.
Dit is albei kolwers se beste vertoning nog in dié ligakompetisie.
Malmesbury het 210/7 in hul toegelate 60 beurte aangeteken, met Jacques Basson (85 4x10, 6x1), Stephen Geldenhuys (65 4x7, 6x1) en Jason Cicera (23nun) aan die spits.
Die tuisspan se beste bouler was Lincoln Dampies met ’n boulontleding van 2/29 in 10 boulbeurte.
De Vries se aanskoulike vertoning met die kolf het weereens die verbeelding aangegryp en hy spog reeds met 217 lopies ná slegs drie wedstryde.
Hy het die boulers behoorlik gestraf en 15 grenshoue en vier sesse in sy beurt gemoker.
De Vries en Fabian Arendse (26 4x3) het ’n vennootskap van 63 om die tweede paaltjie aangeteken. Nadat Marquin Julies (10) by De Vries aangesluit het, het dié twee ’n vennootskap van 68 om die derde paaltjie saamgesnoer.
Adiel Cassiem (23 4x5) en Waylon Libbie (16nun) was die ander kolwers wat ’n waardevolle beurt gespeel het.
Basson se 1/26 was die beste prestasie deur die Malmesbury boulers.
Bergrivier II se wedstryd het nie plaasgevind nie, nadat Malmesbury II onttrek het.
Saterdag speel Bergrivier I (tuis) en II (weg) teen Hermanus. Die tweede span speel ook Sondag tuis teen Van der Stel II.
More
News
|