Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


KWV, Windmeul skitter by Jongwynskou

KWV, Windmeul skitter by Jongwynskou
 
2011-08-25


DIE KWV en Windmeul-kelder in Agter-Paarl het geskitter by vanjaar se SA Jongwynskou.

KWV het die SA kampioen Shiraz opgelewer, terwyl Windmeul se Cabernet Sauvignon ook aangewys is as SA kampioen.

By die Paarl Jongwynskou het KWV tien trofeë gebuit asook die trofee vir meeste punte op die skou, maar Windmeul het hulle met ’n kortkop geklop om die hoogste eer, deur die trofee vir die 2011 kampioen jongwyn van die Paarl-streek te verower met ’n Cabernet Sauvignon.

Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat Windmeul hierdie gesogte toekenning vir sy Cabernet Sauvignon verower.

Die druiwe se oorsprong is ’n geselekteerde wingerdblok op die plaas Otterkuil in Agter-Paarl, wat deur Albert en Hennie Kotzé besit word. Dié druiweblok is juis aangewys as die wenner van die Paarl -streek, in VinPro se wingerdblok-kompetisie.

Volgens Anton Laas, Windmeul se voltydse wingerdboukundige, word hierdie wingerdblok spesifiek bestuur vir ‘n spesifieke styl: “Ons doen proewe met lower-bestuur om die beste resultate op te lewer.”

Anton werk nóú saam met al Windmeul se lede om te verseker dat gehalte wingerdboupraktyke toegepas word.

“’n Goeie wyn begin in die wingerd,” sê hy.

“Die druiwe vir die wenwyn word uit die wingerd spesiaal uitgeneem en dan in die kelder uiters sorgvuldig hanteer,” aldus Francois van Niekerk, wynmaker van Windmeul.

“Ek fokus op die kleur en geure dus lê die wyn op die doppe vir vier weke, appelmelksuurgisting vind in die vate plaas en daarna verouder die wyn vir 18 maande in klein, 225-liter Franse eikehoutvate.

“Ek streef na kultivar-spesifieke wyne wat die unieke eienskappe van elke kultivar beklemtoon.”

Trotse keldermeester, Danie Marais, sê: “As dié wyn by die Jongwynskou só ‘n toekenning ontvang, dui dit al sterk op die potensiaal daarvan vir die gebottelde eindproduk.”

* KWV se puik prestasie by die skou kom kort op die hakke van hul toekenning vir top Shiraz by die Santam Challenge in die Paarl-streek. KWV het benewens die meeste punte, ook die Paarlse trofeë gebuit vir beste Shiraz, Sauvignon Blanc, Chardonnay, Pinotage, natuurlikse soet witwyn, kampioen droë wit versnit, kampioen ander wit kultivar (Viognier), kampioen ander rooi kultivar (Cabernet Franc) en kampioen nie-muskaat versterkte wyn (Ruby Port).

“Die uitslae is ’n klop op die skouer vir die kwaliteit wyn wat by KWV gemaak word, en voorspel top wyne vir 2011,” sê KWV se trotse hoofwynmaker, Richard Rowe.




More News
  • Manager did much good work
  • Zandwyk Park goes ahead
  • Rare wines hold their own at auction
  • Multiple awards for Grande Provence
  • Grondkundige kragte saamgespan
  • Fairtrade vloei suiwer by Bosmans
  • Sweet success for Nederburg
  • “TERROIRIST” at Nederburg Auction
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za