Boland-atlete maak geskiedenis
2005-10-27
’n WELLINGTONNER is deel van die Boland junior vrouespan wat dié naweek geskiedenis gemaak het by die SA 10km Kampioenskap in Durban.
Karen Lewack van Weltevrede Senior Sekondêr en haar drie spanmaats is die eerste vrouespan vanuit die Boland wat ’n medalje in die strawwe spankompetisie van dié kampioenskap kon verower.
Die junior vrouespan wat bestaan uit Lewack, Karin Thompson (Atlantis), Katriena Rooi (Ceres) en Naomi Brand (Velddrif) het ’n bronsmedalje gewen en in die proses met die gedugte padwedloopspanne van Gauteng-Noord en Natal afgereken.
Sentraal-Gauteng het dié afdeling gewen, met Vrystaat in die tweede plek.
In die junior mans-afdeling het die Boland-span wat bestaan uit Henrico Rooi, Roger Davids, Goodwill Blou en Rowan Prins sesde geëindig.
Die 17 provinsies in Suid-Afrika het almal aan die kampioenskap deelgeneem.
Intussen word die voorbereiding vir die 2006 atletiekseisoen Saterdag voortgesit wanneer die tweede en laaste Talent- identifiseringsbyeenkoms op die Daljosafat-stadion gehou word.
Atlete van die WP en SWD sal ook aan die byeenkoms deelneem.
Die Bolandse Afrigterskomitee onder leiding van Basil Jantjies sal ná Saterdag begin om die voorlopige Boland-span vir volgende seisoen te kies.
Die voorlopige span sal reeds vroeg in November bekend gemaak word.
Vir inligting, skakel die uitvoerende beampte van Boland Atletiek, Richard Stander, by 072-347-8964.
More
News
|