Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Vrouedag 'n mors van tyd

Vrouedag 'n mors van tyd
 
2011-08-25


ONLANGS is Vrouedag weer eens gevier met groot byeenkomste, kosse om aan te smul en meer kenmerkend, ’n baie lang naweek vir ons landsburgers om net basies mee vrot te raak.

Tussendeur die gejuig, applous en heerlike gevreet, hoeveel aandag is daar werklik gegee aan die verknorsing van die vrou?

Net ’n paar eenvoudige statistieke om hieraan te herinner en om die oggendkoffie so effe gal te laat proe.

Navorsing toon dat vroue wat in Suid-Afrika gebore word ’n beter kans het om verkrag te word as om te leer lees.

Daar word ten minste ’n halfmiljoen vroue jaarliks hiér verkrag, waarvan ’n groot hoeveelheid jong dogters is. Ja, soms so jonk as net ’n paar maande oud.

Nodeloos om te sê dat hierdie jonge suigelinge intensiewe beserings opdoen en dit is indien hulle hoegenaamd oorleef. ’n Mens kan maar net bid in party gevalle dat hulle wel saggies sal heengaan.

Neem nou maar vir kleine Laura-Lee Groenewald wat op die ouderdom van net 18 maande dood is weens beserings wat opgedoen is deur herhaalde verkragtings.

Weens ’n onbeholpe polisiemag en regstelsel loop haar verkragter salig op straat rond, dalk op soek na sy volgende slagoffer.

Maar dit is nie net ’n verskynsel wat in onse mooie land plaasvind nie. Daar word geskat dat in die magtige Verenigde State van Amerika word ’n vrou elke twee minute verkrag.

Ook tydens navorsing, het dit aan die lig gekom dat 25% van mans wat ondervra is, beken het dat hulle al ’n vrou verkrag het – so te sê, statistieke vanuit die perd se bek.

Maar dit is net statistieke wat aan die lig kom weens gerapporteerde gevalle.

Daar word beraam dat derduisende vroue nie seksuele misdade wat hulle beleef, bekend maak nie, weens die stigma daaraan verbonde. Dikwels word die vrou hiervoor blameer en daarvan beskuldig dat sy die uitlokkende party was.

Net so word duisende vroue ook jaarliks vermoor, dikwels deur die hand van hul man of mansvriend.

En wat doen ons een keer ’n jaar: ons vier vrouedag en vergeet van hierdie gruweldade. En kyk maar na die statistieke, hulle raak nie jaarliks minder nie, maar dit raak eerder erger.

Vrouebesnyding is vandag in die een-en-twintigste-eeu in talle lande dwars oor die wêreld ’n alledaagse gebeurtenis. Hierdie barbaarse ritueel skend die vrou so erg dat dit nie genoem mag word in ’n familie-koerant nie.

In Egipte, byvoorbeeld, word 95% van vroue nog besny.

En in dieselfde asem kan ons gedwonge huwelike noem.

Tans is die opspraakwekkende Dewani-moordsaak op almal se lippe. Indien Shrien Dewani eendag skuldig bevind word aan die afskuwelike moord op sy mooie vrou, kan ’n gedwonge huwelik ook vir hierdie misdaad geblameer word.

Elders in lande soos Irak en Iran word vroue dikwels gestenig tot die dood as hulle effens skeef kyk na ’n man, want hy is mos baas van alles.

Maar daar is wel enkeles van ons wat wel gelukkig genoeg is om vrou gebore te wees, vrou te wees en steeds ons koppe hoog te kan hou sonder intimidasie.

Ons kan met trots sê dat ons seuns na ons as hul ma’s opkyk en ons respekteer. Eendag sal hulle dieselfde respek aan hul eie lewensmaat oordra.

In die annale van verskeie godsdienste is die vrou as ma van vele eerbiedig en op die hande gedra. Dit is ook nie toevallig dat onse planeet Moeder Aarde heet nie.

Maar hoofsaaklik faal die lewe steeds vroue. En eintlik is dit ’n klap in die gesig van enige respektabele vrou om een keer ’n jaar te hoor Vrouedag dit en Vrouemaand dat, want eintlik beteken dit niks nie.

Vrouedag behoort ’n daaglikse verskynsel te wees. Respek vir die vrou wat lewe gegee het, wie se instink daar is om te versorg en te voed, maar wat ook haar naels sal wys as haar gesin bedreig word.

’n Vrou is nie ’n verskynsel wat een keer ’n jaar ten toon gestel moet word nie, maar iemand na wie daar 365 dae van die jaar opgekyk moet word.




More News
  • Name change comes with new commitment
  • Maar moeilik met diens in middedorp
  • Rooi linte nie vir vandalisme
  • Moenie die naam verander nie
  • We can make a difference
  • Doen julle werk!
  • SMS
  • Peace under the (Linden) trees
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za