Skeepskanon is sy buit
2011-08-25
“DIS beslis Chris Booysen se grootste rommelfonds ooit!” het ’n Wellingtonner die afgelope week geskerts toe dit bekend raak dat Booysen, projekleier van Wellington se Aksie teen Rommel, ’n tamaai skeepskanon wat meer as 200 jaar in die see gelê het, op die strand by Vleesbaai aan die Suid-Kaapse kus ontdek het. Booysen en sy vrou Annalene het onlangs by hul strandhuis by Vleesbaai gaan uitspan toe hulle tydens laagwater op die kanon by Fransmanshoek afkom. Dit het oop en bloot in die vlakwater gelê en is volgens historici een van die 56 kanonne wat aan boord van die Franse oorlogskip La Fortune was wat in 1763 in die baai langs Fransmanshoek gestrand het. Die skip se nagenoeg 400 bemanningslede onderweg van Mauritius na Frankryk het almal die ramp oorleef. Drie soortgelyke kanonne het vantevore reeds in die baaitjie uitgespoel en word op die oomblik daar naby uitgestal. Die een wat Chris Booysen en Annalene pas ontdek het, gaan by Fransmanshoek uitgestal word. Volgens Booysen het Wellington se Aksie teen Rommel beslis gemaak dat dat hy rommel vinnig kan raaksien, maar dis baie meer opwindend om ’n ou kanon op ’n verlate strand te ontdek as om op ’n hoop geroeste blikke en flenterpapiere op ’n oop erf in Wellington af te kom.
More
News
|