Die weer speel saam by J-Dam
2011-08-25
DIE sewende klubkompetisie van die Paarl Varswaterhengelklub het verlede Saterdag by J-Dam plaasgevind. Die weer het mooi saamgespeel en die hengel het plaasgevind in lekker sonskynweer met ’n ligte noordwestewind, met net 24 hengelaars wat opgedaag het. ’n Getal van 130 visse is gevang met ’n gesamentlike gewig van 198,3 kg. Paul Greyling (jr) was die beste hengelaar vir die dag met 21 vis vir 28,6 kg. Foxie Foxcroft was in die tweede plek met 12 visse vir 32,3 kg. Paul se pa, groot Paul soos hy bekend staan, was derde met 17 visse vir 17,4 kg. Zandrea van Deventer het die beste onder die dames gevaar met 14 visse vir 14,2 kg. Zandrea was ook die beste junior vir die dag. Sydney Diedericks het die grootste vis vir die dag gevang met ’n pragtige karp van 7,78 kg. Algeheel is Paul Greyling (jr) nou die voorloper met 343 punte. Johan Otto is in die tweede plek gevolg deur Sydney Diedericks. Magda Otto bly die voorloper onder die dames met 303 punte. Zandrea is in die tweede plek en Magriet derde. Met drie kompetisies wat oorbly vir 2011 kan sake nog baie interessant raak omrede net die 8 beste van die 10 kompetisies van die jaar in ag geneem word vir die finale punte aan die einde van die jaar. Die volgende klubkompetisie vind plaas op 17 September by Paarl-dam.
More
News
|