Vrou sterf ná huismoles
2011-08-25
''n JONG vrou is die naweek dood ná ’n geval van gesinsgeweld. Lede van Klapmuts polisie het Saterdagnag ’n klagte ontvang van huismoles by ’n werkershuis op die plaas Nattevalleij. Met hul aankoms, is daar aan hulle vertel dat Jessica Smit (27) en haar saambly-vriend, Sydney Jomgilanga (22), erg baklei het. Die situasie is tot kalmte gebring waarna die polisie die toneel verlaat het. Maar kort hierna het Smit na bewering gevlug van die plaas af. Sy het tot op die R44 naby Wiesenhof gehardloop, met Jomgilanga kort op haar hakke en hulle het glo weer gestry. Tydens hierdie stryery op die donker pad, is Smit deur ’n bakkie getref. Volgens die polisieverslag is sy onder die bakkie vasgepen en is vir enkele meters ver gesleep. Die bestuurder van die motor, Eric Naudé, het ondersoek ingestel en is van agter deur Jomgilanga aangeval en erg aangerand. Met die aankoms van die polisie het hulle op ’n erg bebloede Naudé afgekom en Smit was reeds dood. Jomgilanga is in hegtenis geneem en aangekla van aanranding. Die polisie ondersoek ook ’n saak van strafbare manslag ná Smit se dood.
More
News
|