Munisipaliteit skuld DBV derduisende
2011-08-25
ASOF die Wellington Dierebeskermingsvereniging nie genoeg probleme het om kop bo water te hou nie, skuld die Drakenstein Munisipaliteit hulle byna R200 000. Dit kom nadat ’n ooreenkoms tussen hierdie twee partye in 2009 gesluit is dat die DBV as skut sal dien vir die munisipaliteit. Die munisipale skut in Distilleryweg, Daljosafat, word ’n geruime tyd lank al nie meer gebruik as ’n diereskut nie, maar eerder as ’n skut vir voertuigwrakke. Dus is hierdie kontrak gesluit om sodoende hierdie plig oor te dra aan die DBV. Volgens die kontrak sal die Munisipaliteit verskeie kostes betaal vir skutdienste, soos byvoorbeeld R20 per dier per dag en R30 vir die toediening van die genadedood aan diere. Wellington se DBV voorsitter, Anne-lida Schlemmer, sê dat die munisipaliteit wel nog verantwoordelik is vir die optel van rondloperdiere en lede van die publiek bring dikwels ook sulke diere na hulle toe. Hulle word dan volgens hierdie ooreenkoms namens die Munisipaliteit by die DBV geskut. “Ons ry net na klagtes toe van mishandeling teenoor diere en as die Munisipaliteit nie na ’n klagte van ’n rondloper dier kan omsien nie, sal hulle dan vir ons hieroor verwittig. “Daar was al ook enkele gevalle in die verlede waar ons gekontak is om ’n dier te gaan oplaai wat wild deur ’n besige straat hardloop.” Maar vir die afgelope 18 maande het die Munisipaliteit nie hul deel van die ooreenkoms eerbiedig nie. “Hierdie koste vermeerder by die dag en as ’n rondloperdier na ons gebring word, kan ons nie die dier weier nie. “Ek het bewyse dat ek elke maand ’n rekening aan direkteur Vernon Petersen gestuur het wat hiervoor verantwoordelik is, maar nou voer hy aan dat hy dit nie ontvang het nie.” Na vele navrae oor die versuim van die Munisipaliteit, het die DBV ’n prokureursbrief ontvang waarin die Munisipaliteit redes aanvoer vir die nie-betaling van hul rekening. Hulle eis onder andere afskrifte van die fakture of brondokumente van die DBV, maar Schlemmer sê dat sy al die fakture stiptelik elke maand aan Petersen gestuur het. Schlemmer sê ook dat hulle nou afskrifte van die 2800 dokumente wil hê vir die diere wat hulle namens die Munisipaliteit versorging moes gee. “Ons kan eenvoudig nie bekostig om soveel afdrukke te maak nie, maar ek het hulle in kennis gestel dat hulle welkom is om ’n beampte na ons kantoor te stuur en dit te bestudeer. Alles is hier. “Dit blyk nou dat hulle onetiese taktieke gebruik om nie hul skuld te betaal nie.” In die prokureursbrief word ook aangevoer dat die DBV nie klousule 2.4 van die kontrak nakom nie. Hierdie klousule verduidelik dat die DBV slegs diere sal optel in gevalle waar die Munisipale Dierebeheerbeampte nie die funksie kan volvoer nie, bv as gevolg van ’n personeeltekort, tekort of gebreke aan toerusting, of na ure. “Maar soos wat ek al genoem het, diere word na ons gebring en ons dien as munisipale skut. Ons kan eenvoudig nie rondloperdiere wegwys nie. Die Munisipaliteit skuld die Paarl DBV ook ’n uitstaande bedrag vir skutdienste. Munisipale woordvoerder May Carolissen het bevestig dat die Raad se regsadviseurs tans in gesprek is met Wellington DBV rakende hierdie uitstaande rekening. Dus kan hulle tans geen kommentaar hieroor lewer nie. * The Drakenstein Municipality is in arrears of nearly R200 000 with the Wellington SPCA.
More
News
|