Boland begin op 'n drafstap
2005-10-27
Leon Steenkamp
DIE Boland Amateur-krieketspan se 2005/2006 seisoen het met ’n paar stampe en stote begin, maar hul afrigter glimlag nietemin breed.
Boland se eerste driedagwedstryd teen Grens op Oos-Londen het Donderdag eers ná teetyd begin, nadat reën spel in die eerste twee sessies verhoed het.
Nadat die besoekers die loot gewen het, is daar besluit om eerste te kolf. Boland verklaar Vrydag voor etenstyd met die telling op 180/9.
Grens behaal ’n voorsprong van 68 lopies nadat hulle teen uitskeityd vir 248 uitgehaal word.
Die harde woorde van afrigter, Salieg Nackerdien, is deur die spelers ter harte geneem en die Bolanders kolf die hele Saterdag deur en die wedstryd eindig met die telling op 322/9.
Nackerdien was baie tevrede met die karakter wat sy span in hul tweede kolfbeurt vertoon het.
“Dit was die ideale geleentheid om aan ons kolfwerk te skaaf. Ons kolwers het in die Paarl min tyd in die middel deurgebring en dit was die ideale kanse vir die manne om beurte aanmekaar te sit.
“Ek is baie baie bly oor die manier waarop hulle teruggekom het,” het Nackerdien vandeesweek sy kolwers geprys.
Warren Swanepoel (93) was die groot kanon, maar kon ongelukkig nie sy honderdtal behaal nie.
Bykans elke speler het ’n telling van 30 plus bygedra wat help bou het aan die groot totaal. Wimpie Louw (47), Waylain September (41), Rayno Arendse (34), Wallace Albertyn (34), Warren Swan (33) en Jacques van Wyk (33) het almal goed teruggeveg in die tweede beurt nadat slegs Louw (43), Clifford Prinsloo (41), Arendse (34) en Henry Davids (20) lopies kon kry in die eerste beurt.
Om verder by te dra tot die warm gevoel in sy bors het Nackerdien se span ook Sondag die eendagstryd met ses lopies gewen.
Boland teken 241/9 in hul toegelate 45 beurte aan, met Davids (76 in 111 balle) en Shane Summers (70 van 66 balle) wat die slaanwerk doen.
Dié twee se vennootskap van 120 om die tweede paaltjie het ’n stewige fondasie vir die besoekers gelê.
Grens het teen uitskeityd net te kort geskiet en moes met 235/7 op die telbord tevrede wees.
Bardo Fransman (4/58 in 8bb), Hillroy Paulse (2/16 in 6bb, 2 leeg) en Wallace Albertyn (1/26 in 7bb, 2 leeg) het hul deel met die bal gedoen.
Die Boland-span begin vandag sy driedagwedstryd teen Natal in Durban.
More
News
|