Huis nie meer Joey se paleis
2011-08-25
BYNA tien jaar gelede het Joey Geldenhuys met ’n huppel in sy stap geloop, nadat hy sy huisverband finaal afbetaal het. Maar nou sit Geldenhuys in vrees dat hy dalk hierdie einste huis in Paarlitapark, Paarl-Oos, sal kwyt wees weens ’n ‘bank-debakel’. Geldenhuys het destyds bekendheid verwerf as regterhand van die voormalige Springbok-atleet en potjiekos-man van Maak-’n-Las-faam, Andries Krogman. Geldenhuys het kennis gemaak met Krogman toe hulle vir ’n wyn-en-spiritusmaatskappy gewerk het en hy het self junior Springbokkleure verwerf as langafstand-atleet. Geldenhuys is in 2000 hiér afgelê en in 2001 is hy op ’n ongeskiktheidspensioen geplaas weens die verlies van ’n oog en suikersiekte. Toe sy pensioengelde aan hom uitbetaal is, het hy hiermee die uitstaande bedrag van sy huisverbandlening by Absa vereffen. Sodoende het hy gemoedsrus gehad, nie net vir sy eie onthalwe nie, maar indien iets met hom sou gebeur, sou sy vrou en kinders met ’n dak oor hul kop gelaat word. Maar vroeër vanjaar is Geldenhuys erg geskok toe hy ’n huisverbandrekening vanaf Absa-bank ontvang wat hom in kennis stel dat hy R17 304 verskuldig is aan hulle. Geldenhuys, wat erken dat hy nie veel kennis dra van banksake nie, is inderhaas na ’n vriend, Leon Beukes, met wie hy destyds kennis gemaak het tydens Maak-’n-Las. Beukes het al Geldenhuys se papier werk vanaf Absa bestudeer en hy is saam met hom na Absa-bank in Hoofstraat, Paarl. Na talle navrae by verskeie bankbeamptes, is daar aan hulle gesê dat die uitstaande gelde weens onbetaalde huisversekering en ’n polis is, wat gepaard gegaan het met die huisverbandlening. Beukes wil nou weet hoekom is Geldenhuys nie hieroor ingelig toe hy in 2001 sy huislening klaar betaal het nie. “Daar is talle mense wat nie kundig is oor banksake nie en dit is dus ’n bank se verantwoordelikheid om hulle by die hand te vat en in die regte rigting te wys.” Beukes kon nie vir hierdie vrae antwoorde kry nie en is basies gesê dat Geldenhuys hierdie geld aan hulle moet betaal en klaar. En boonop moes Geldenhuys ’n jaar gelede R2000 uit sy eie sak uithaal om ’n gebarste warmwatersilinder te vervang. “As ek geweet het dat ek versekering op my huis het, sou ek kon eis. Ek het nog nooit gebruik gemaak van hierdie versekering nie.” Geldenhuys het nou ’n klag aan die Bank-ombudsman gerig oor hierdie aangeleentheid, maar tot dusver het hy geen terugvoering ontvang nie. Geldenhuys verdien maandeliks ’n ongeskiktheidspensioen van R1140 en nou verwag Absa dat hy ’n ooreenkoms met hulle moet aangaan om vir die volgende twee jaar R707,60 per maand aan hulle terug te betaal. “As ek hierdie betaling maak, dan het ek minder as R440 rand vir die res van die maand oor. Ek is bitterlik teleurgesteld en weet nou nie waarheen om te draai vir hulp nie.” Navraag is gedoen by Absa-bank oor Geldenhuys se skuld en teen druktyd kon hulle nog nie antwoorde gee nie. Hulle stel wél ondersoek in na die saak. * A man who paid off his house ten years ago and is now living off a disability grant, got the shock of his life when he discovered that he owes a bank thousands of rands due to house insurance fees which were never cancelled.
More
News
|