Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Sterk rand knou wynuitvoer

Sterk rand knou wynuitvoer
 
2005-10-27


DIE besonderse sterk vertoning van die rand verlede jaar het hoofsaaklik daartoe bygedra dat Suid-Afrikaanse produsentekelders se wynuitvoere – veral dié van rooiwyn – met byna ‘n derde gedaal het.

Dit is een van die vernaamste bevindinge van
PricewaterhouseCoopers (PwC) se prestasiemetingsopname van die 2004-oes van produsentekelders in die plaaslike wynbedryf.

Vir die opname, is die 2003- en 2004-wyndruiwe-oeste vergelyk van altesaam 57 wynkelders wat druiwe van produsente tot wyn verwerk en bemark.

Ander belangrike bevindinge van die opname is dat:

* Die 57 deelnemende kelders verantwoordelik was vir ongeveer 77 persent van die plaaslike wyndruiwe-oes;

* Volume steeds ‘n belangrike prestasiedryfveer van koste by produsentekelders is;

* Gekonsolideerde bemarkingstrategieë noodsaaklik is;

* Die produsentekelders se bedryfsiklus verlangsaam het;

* Die finansieringstruktuur van die produsentekelders steeds
dringende aandag behoort te geniet; en

* Wynkelders die belangrikheid besef om swart ekonomiese bemagtiging (SEB) deel te maak van hul langtermyn-groeistrategie.

Ten opsigte van die daling in uitvoere, maak die jongste opname melding van die feit dat wynkelders aanvanklik – as gevolg van globalisering – buitelandse afsetgebiede begin oorweeg het, aldus Frans Weilbach, spesialisvennoot: wynindustrie, PwC.

“Gevolglik het hulle op die internasionale mark begin meeding waar vooruitsigte baie aanloklik was.”

Die sterk vertoning van die rand gedurende 2004 het egter veroorsaak dat die uitvoermark glans begin verloor het en minder aanloklik was as vroeër.

Uitvoere het derhalwe begin daal – vanaf tien persent van 2003 se totale plaaslike oes tot slegs sewe persent van die 2004-oes.

Die groter oes het, tesame met die gepaardgaande groter aanbod en sterk rand, gelei tot ‘n daling van meer as 11 persent in die netto opbrengsprys per ton. Rooi kultivars se pryse het die meeste gedaal en was gemiddeld 27 persent laer as in 2003.

Groter kelders vind dit oor die algemeen makliker om eenheidskoste onder beheer te hou. Aan die ander kant, is daar egter ook gevind dat hoë volumes druk plaas op verkoopspryse. Daarom is dit waarskynlik makliker vir kleiner kelders om hul relatief kleiner oeste teen hoër pryse te bemark.

Volgens die opname, behoort gekonsolideerde bemarkingstrategieë ‘n positiewe bydrae tot prysstabilisasie te lewer – veral in die internasionale mark.

Weilbach sê: “Daar is verskeie inisiatiewe vir bemarkingsamewerking tans in sommige streke aan die gang, wat sekerlik waarde vir die Suid-Afrikaanse rolspelers behoort in te hou.”

Hoewel die voorraadvlakke slegs ‘n matige styging sedert die vorige jaar toon, word daar ‘n beduidende verlangsaming in die produsentekelders se bedryfsiklus waargeneem.

Onduidelikheid oor die moontlike invloed van die voorgestelde Wynhandves op kelders, het daartoe gelei dat ongeveer twee derdes van die deelnemers nog nie amptelike SEB-planne opgestel het nie.”

Verder kon die meeste kelders ook nog nie ‘n SEB-telling bereken nie.



More News
  • Manager did much good work
  • Zandwyk Park goes ahead
  • Rare wines hold their own at auction
  • Multiple awards for Grande Provence
  • Grondkundige kragte saamgespan
  • Fairtrade vloei suiwer by Bosmans
  • Sweet success for Nederburg
  • “TERROIRIST” at Nederburg Auction
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za