’n KELDERWERKER van Vrede & Lust in Simondium, Baron Willemse, is onlangs aangewys as Wynkelders SA se Kelderwerker van die Jaar.
Die program, wat deur Winetech befonds word, poog om erkenning te gee aan alle permanente kelderwerkers werksaam binne die Suid-Afrikaanse wynbedryf.
Die doel van die projek is om rolmodelle vir kelderwerkers te vestig en om sodoende nie net produktiwiteit nie, maar ook gesonde verhoudings aan te moedig en ook die oordrag van kennis en opleiding te bevorder.
Deelnemers aan die program word vooraf op verskeie maniere geëvalueer, wat afskop met ’n proe-evaluasie wat in die verskillende distrikte onder leiding van Charl Theron en die kelderwerkerstudiegroepe aangebied word.
Die kandidate se vermoë om wynstyle, cultivars, wynfoute, die verskillende vlakke van suikergehalte, suurgehalte, sowel as hul vermoë om hout te identifiseer, word in hierdie ronde getoets. Die kandidate moet terselfdertyd ook ’n tegniese beskrywing gee van twee wyne wat aan hulle gegee word. Slegs kandidate wat as bevoeg verklaar word in die proe-evaluasie kan dan deelneem aan die tweede ronde van die SA Kelderwerkerprogram.
Gedurende vanjaar se program was daar ’n totaal van 138 deelnemers, waarvan 75 kandidate deurgedring het na die tweede ronde. Hierdie 75 kandidate moes ’n wynproe aanbied aan die paneel, bestaande uit Santi Basson, projekleier, Gerard Martin van Winetech en Charl Theron. Die wyn kon ’n wyn van hulle eie keuse wees.
Gedurende die onderhoud word daar onder andere gevra om ’n tegniese berekening, wat gebaseer word op hulle ondervinding in die kelder, te doen. Hulle kennis word ook getoets met vrae oor wynbereiding. Vanjaar was alle kandidate wat aan die tweede ronde deelgeneem het, ook potensiële kandidate vir ’n uitruilprogram tussen Suid-Afrika en Frankryk.
Die kandidate se kennis is hiervoor getoets in die tweede ronde deur Douglas Chitepo, Direkteur vir Voortgesette Onderwys en Opleiding by Elsenburg.
Vanjaar het 20 kandidate na die derde ronde deurgedring, waar hulle aan die paneel ’n voorlegging van vyf minute moes doen oor enige onderwerp in die wynbedryf, wat hulle self nagevors het en voorberei het.
Daar is ook aan hulle ’n wyn gegee waar vier karaktertrekke geïdentifiseer moes word, soos lae alkoholinhoud, dun/waterig, soet en frank.
Die finaliste, benewens Willemse, was Elrico Coetzee van Oranjerivier-kelders in Upington en Regan Theodore van Vergenoegd, Stellenbosch. Vanjaar is daar ook vir die eerste maal erkenning gegee aan die toppresteerder vir die kwalifiserende proe-evaluasie uit die eerste ronde, wat gewen is deur Werner de Koker van Montagu.
Die pryswenners is by ’n inligtingsdag op 26 Augustus op Stellenbosch aangekondig waar verskeie voorleggings aangebied is aan almal wat die eerste ronde geslaag het.
Die SA Kelderwerkerprogram bied gratis opleiding nie net aan die drie finaliste nie, maar ook aan die 20 persone wat na die derde ronde deurgedring het. Hulle sal proe-, bestuurs- en leierskapsopleiding ontvang.
Die wenner sal as prys geakkrediteerde tegniese opleiding ontvang wat waarde tot sy loopbaan sal voeg.
Boonop ontvang 20 man en vroue van die wenner se kelder/plaas ook lewensvaardigheidsopleiding.
Wynmakers en kelderbestuur getuig daarvan dat die program kelderwerkers se tegniese kennis verbreed, dat hulle selfvertroue ook toegeneem het en dat daar groter deelname is binne kelderverband.
Willemse het reeds vertrek na Frankryk as lid van ’n uitruilprogram vir die wynbedryf waar hy ’n twee weke lank opleiding sal kry, saam met ander gekeurdes.