Kriekplaag trek verby
2005-03-24
Susan Botha
DIT was soos ’n inval, het een vrou vertel van verlede week se kriek-plaag wat veral die Paarlse middedorp getref het.
“Vroegaand was daar ’n paar krieke buite die woonstel, maar nie meer as gewoonlik nie.
“Nege-uur het my man huis toe gekom en gevra of ons weet hoe lyk dit buite in Lady Greystraat.
“Dit was asof sy woorde die hel laat losbars het: skielik het die krieke soos ’n swerm sprinkane op ons toegesak.
“Ek het nooit geweet krieke kan so ver en so hoog vlieg nie. Ons bly op die tweede verdieping en hulle het met gemak by die vensters ingevlieg, onder deur die deure gekruip en op die balkon en stoepe baljaar.
“Ons het blikke gif uitgespuit en uiteindelik sommer met plakkies onder die gediertes ingevaar.”
Maar alles pure verniet - die meeste mense in die middedorp het dié nag nie veel geslaap nie.
“Ek wou net insluimer, toe spring daar ’n kriek in my gesig,” het een vrou verontwaardig vertel. Nodeloos om te sê, sy het nie gou weer die lig afgesit nie.
Woensdagoggend het mense eers besef hoe erg die “inval” was. “Dit was soos ’n toneel uit ’n Indiana Jones-fliek!” het ’n inwoner van ’n woonstelblok gesê.
“Toe ek die trappe afstap na die voordeur, het ek die verskriklike lawaai gehoor, maar gedink dit is maar ’n paar krieke in die toegeboude voorportaal.
“Maar daar gekom, het ek net ’n swart massa blink lyfies gesien, plek-plek sommer twee en drie bo-op mekaar.
“Ek het eers gedink van hulle is dood, maar toe ek my moed bymekaarskraap en my voet versigtig op ’n oop kolletjie sit, het die goedjies die wêreld vol geskarrel om weg te kom.”
Die meeste mense in die middedorp en omstreke kon Woensdag nie hul oë glo toe hulle buite kom nie.
Krieke het soos ’n swart mat teen buitemure gesit.
By Huguenot-stasie het hulle in die duikweg ingetrek en histeriese Evas het geweier om ’n voet daarin te sit. Uit radeloosheid het sommige mans die vroue op hul rug deur geabba.
“Ek hoor oor die radio iemand sê krieke is vriendelike goggas met ’n vrolike geluid. Hy kan gerus my deel ook vir hom kom haal!” was een meisie se kommentaar.
By Laerskool La Rochelle wou die meisies Woensdag nie uit die klaskamers kom nie, want die gras het gewemel van krieke. Dan is daar ook die drie-jarige kleuter wat volstrek geweier het om alleen badkamer toe te gaan.
Op haar ouma se versekering dat hulle onskadelik is, het sy baie beslis geantwoord: “Jy kan maklik praat, jy is al groot. Ek is klein en hulle sal my sommer opvreet!”
Verskeie besighede, veral supermarkte en klerewinkels, het Woensdag hul deure gesluit terwyl plaagdoder-maatskappye eers van die klein peste ontslae geraak het.
Ook motorhandelaars is oorval.
Teen Dinsdagmiddag laat het sekuriteitswagte en ander personeel nog met besems buite Checkers geloop en opruim.
Charles Jonkers van Wynland Plaagbeheer sê hulle moes behoorlik bontstaan.
Woensdagnag het die Munisipaliteit tot die stryd toegetree en tot 07:00 die volgende oggend gif gespuit, veral in die middedorp.
Albert van der Merwe, hoof van Parke, sê hulle kon nie deur die dag spuit waar daar soveel mense is nie en het toe gekonsentreer op die Dalstadion, wat self kwaai deurgeloop het onder die plaag.
Dié stadion was ook die plek waar die SA Junior-atletiekbyeenkoms die naweek plaasgevind het. Werkers het meer as tien groot vullisdromme met krieke gevul.
Donderdagnag het hulle weer die strate aangedurf.
Verklaring
Die verklaring wat gegee word vir die menigte krieke, hou verband met die lang, warm somer.
Blykbaar het dit die krieke kans gegee om twee keer in een somer te broei en het hulle getalle waarskynlik verdubbel.
Die droogte het ook hul natuurlike vyande, veral paddas en voëls, se getalle laat verminder.
Entomoloë het mense verseker dat die goggas geen gesondheidsgevaar inhou nie.
Wat ons hier mee sit, is die Mediterreense veldkriek (Gryllus bimaculatus), wat inheems is aan Afrika, Asië en die suide van Europa.
Hoewel dié krieke, wat tans die Boland op hol het, gewelddadig kan wees (mannetjies skeur mekaar soms met hul tande aan flarde), is dit hoogs ongewoon dat hulle skade aan mense se gordyne of klere aanrig.
Hulle beweeg in die nag rond, maar word deur lig aangetrek. Dit is daarom dat hulle gewoonlik hul weg deur ’n oop venster of deur vind. Jonkers sê in sy 27 jaar in die bedryf, kon hy geen bewys vind dat krieke eintlik vernielsugtig is nie.
Hy sê daar bestaan ’n baie geringe moontlikheid dat hulle fyn kolletjies in gordyne kan vreet, maar gewoonlik is die krieke nie lank genoeg in ’n huis hiervoor nie.
* The swarms of crickets which hit Paarl Valley last week, have mostly disappeared.
More
News
|