Dissipline pla met Violets teen Standards
2011-09-01
DIE hoë-tempo wedstryd tussen Violets en Young Standards, wat gekenmerk was deur ongedissiplineerde spel en vir Young Standards se eerste rugbyspan drie geel en een rooikaart besorg het, is Saterdag deur Violets met 16-8 gewen. Standards het veral beïndruk met goeie lopies, wat in die begin van die wedstryd gelei het tot ’n drie en strafskop wat die telling op 8-0 te staan gebring het. Hierna het Violets gewys hoekom hulle tans tweede op die puntelys lê, deur gebruik te maak van hul groot en baie ervare pak voorspelers om die manne van Standards stukkend te skrum en te dryf. Onmiddellik was daar meer vuur onder die Violets manne, met die gesoute Ashley Raubenheimer wat met ’n skepskop vanaf ’n losgemaal geslaag het. Die spelers het gaan water drink met die telling 8-3 in Standards se guns. Ná harde woorde deur die Violets-afrigter gedurende die breuk, skitter die manne van Violets daarna met veral Monrico Carolissen, Archie Masiza en Cedric Williams wat beïndruk. Dié toedrag van sake lei toe na geniepsige spel deur Standards wat hulle twee geelkaarte en ’n rooikaart kos. Vir Violets, wat hierdie wedstryd moes wen om nog die liga te wen, gaan druk Aldino Brown ’n skitterdrie vanaf ’n skrum toe hy die bal teen die kantlyn kry en na binne aftrap en vyf Standards-spelers klop om onder die pale te gaan druk. Denovan Hoogaard slaag met die doelskop en klits daarna ook nog twee strafskoppe oor om die eindtelling 16-8 te maak. Violets lê tans tweede op die punteleer en speel hierdie naweek teen Young Gardens op die Daljosafat-velde.
More
News
|