Roses is 2011 kampioen
2011-09-01
DIE Wellington-rugbyspan, Roses United, het verlede Saterdag die span van CPUT-Wellington oortuigend met 52-0 op Pelikaanpark geklop en met dié oorwinning verseker dat hy vir die tweede agtereenvolgende jaar as Premierliga-kampioen van die Boland-rugbyunie gekroon word. In die eerste paar minute het die manne van CPUT-Wellington hulle deeglik laat geld met klipharde voorspelerspel, maar Roses se voorspelers het gaandeweg die oorhand begin kry. Hier was dit veral die lostrio van Geoffrey Allies, Alrich Erasmus en Jacquin Ruthford wat beïndruk het met hulle samespel en werkverrigting. Die voorry met Bjorgen Julies, Martin Nel en Keenan Abrahams het ook hul teenstanders laat les opsê met puik skrumwerk. Ignatius Korabie en sy slotmaat, Jerry Sefoko, was egter die twee groot dorings in die vlees van die besoekers. Hulle het met skitterende kragspel die manne van CPUT-Wellington die stryd behoorlik aangesê. Talle male het hulle ook baie meters veld gewen met kraglopies wat die skare op hulle voete gehad het. Oor die algemeen het Roses se agttal ’n vertoning gelewer wat verwag word van ’n kampioenspan. Die kersie op die koek was natuurlik die drie vaskoppe wat hulle teen die swaar CPUT-Wellington-pak gehaak het. Teen rustyd was CPUT-Wellington nog in die prentjie met die telling 13-0 in die guns van Roses. Met die aanvang van die tweede helfte het die spreekwoordelike damwal gebars toe die giftige agterlyn van die Rose op al sy silinders begin loop het. Hier was dit veral Neville Adams, skrumskakel, wat weer eens ’n goeie vertoning agter die skrum gelewer het. Adams was baie betrokke by die spel en was by tye soos ’n vierde losvoorspeler met sy fisiese spel. Gurshwin Moses, binnesenter, het ook klassieke senterspel gelewer saam met sy sentermaat, Denver Fortuin. Hierdie twee spelers het hulle teenstanders gedurig beproef met die puik aanvalle wat hulle geloods het, sommiges selfs vanuit hulle eie kwartgebied. Roses se twee vleuels, Justin Morgan en Angelo Booyse, het, tesame met Carlisle Lawrence (heelagter) ook Saterdag hulle kant gebring met goeie spel. Clinton Onckers (reserwe - linkervleuel) en Percival Williams het self ook goeie agterlynspel kom lewer toe hulle as plaasvervangers opgedraf het. Vir die Rose het Onckers (2), Fortuin Nel, Moses, Ruthford, Morgan en Williams drieë gedruk. Adams was suksesvol met vier doelskoppe. Divan Roems en Percival Williams was suksesvol met een doelskop elk. Roses se tweede en derde span het hul wedstryde onderskeidelik met 22-13 en 17-8 gewen. Roses se laaste liga-verpligting is op 10 September teen Black Leaves op Gansbaai. Roses, wat vanjaar weer die nasionale klubrugbykampioenskappe op Stellenbosch gaan bywoon, se eerste wedstryd is op 17 September op Stellenbosch. Hulle speel teen die Tukkies (Universiteit van Pretoria). Die “Groot Brag” vir dié toernooi vind op 15 September in die Flappie Lochner-saal by die Boland-stadion plaas. Kaartjies vir dié geleentheid is beskikbaar by Rupert Appolis by 083 4975 542.
More
News
|