VIER mense is die afgelope naweek met messe vermoor.
Saterdagoggend om 03:00 is die liggaam van Mpendulo Pshabe (21) in Dietmanstraat, Wellington, gevind. Hy is dood aan verskeie messteekwonde. Mpendulo Phiteni (21) is in hegtenis geneem in verband met die voorval.
Dieselfde oggend is Paarl-Oos polisiebeamptes uitgeroep na Simfonielaan, Groenheuwel. Met hul aankoms daar was mense besig om ’n ergbebloede Jeffrey Dicks (33) in ’n motor te laai. Volgens Dicks se ma, het hy vroeër by hul huis ingestrompel en gesê dat “Mattie” hom met ’n mes gesteek het. Dicks is onderweg na Paarl Hospitaal oorlede. Matwin Cook (27) is in hegtenis geneem.
Vroeg Sondagoggend het ’n polisiebeampte op die liggaam van Francois Regan afgekom. Hy het steekwonde in sy rug gehad.
Anele Mdimbaza (23) is in die Paarl Hospitaal dood, ook weens messteekwonde wat hy in ’n sjebeen in Fairyland opgedoen het.
Msineathi Imanflana (28) is in verband met die voorval in hegtenis geneem.