SKOK en ongeloof heers tans onder talle leerders van Wellington Hoërskool, nadat ’n geliefde onderwyser reeds die afgelope week agter tralies sit.
Die onderwyser, wie se naam nie op hierdie stadium bekend gemaak mag word nie, is verlede Vrydag in hegtenis geneem nadat ’n leerder by dié skool hom aangekla het van kindermolestering.
Die voorval het na bewering by sy Wellington woning plaasgevind toe hy die seun ekstra wiskundelesse gegee het.
Besonderhede van die voorval is nie bekend nie.
Die onderwyser sit sedert Vrydag agter tralies en is borg geweier totdat hy op 12 September weer in die Wellington Landdroshof verskyn.
Maar leerders is nie oortuig dat hul onderwyser hieraan skuldig kan wees nie. So sterk voel hulle daaroor dat talle van hulle Maandag opgetrek het na die Wellington Landdroshof ter ondersteuning van hul onderwyser.
Die onderwyser het ongeveer drie maande gelede by die skool begin werk en aktief betrokke geraak by hul sokkerspan en dramaklasse.
Bewerings wat nou onder andere gemaak word, is dat professionele jaloesie daartoe gelei het dat sekere van sy kollegas sy moontlike ontslag wil bewerkstellig.
’n Ander gerug wat die ronde doen is dat die 17-jarige klaer geld by die onderwyser gesoek het om Tik mee te koop. Toe hy weier om hom geld te gee, het die tiener beweringe begin versprei oor hom.
Skoolhoof Harvey Cupido het gesê dat hy nie mag kommentaar lewer oor die voorval nie. Hy het navrae verwys na die Wes-Kaapse Onderwysdepartement wat teen druktyd nog nie hierop gereageer het nie.