Skok oor padsterftes
2011-09-01
Lise Beyers
DIE gemeenskap van die Paarl is erg geskok ná die dood van twee plaaslike tieners in gru-ongelukke. Henré Rossouw (18), ’n matriekleerder aan Hoër Jongenskool Paarl, is Saterdag omstreeks middernag dood toe hy beheer oor die Mercedez Benz verloor het wat hy bestuur het in Hoofstraat. Die motor het teen ’n muur op die hoek van Hoof- en Pleinstraat gebots en Henré is deur die impak uit die motor geslinger. Hy is aan kopbeserings oorlede. Niemand anders was in die motor nie en volgens die polisieverslag was geen ander motor in die ongeluk betrokke nie. Die voertuig het ná die botsing gerol na die anderkant van Hoofstraat en aan die brand geslaan. Thinus Hendriks van die Sportsman’s Bar op wie se drumpel die ongeluk plaasgevind het, het gesê dat hulle eers van die ongeluk bewus geraak het toe die motor aan die brand geslaan het. “Van ons klante het na buite gehardloop en die jong man te hulp gesnel. Een man het hom probeer bybring, maar sy beserings was te erg. Ons het met ’n brandblusser die vlamme vanuit die motor geblus. Dit was chaos.” Kort hierna het Henré se ma en nog familie en vriende by die toneel aangekom waar hartverskeurende tonele afgespeel het. Sondagoggend het ’n groot groep mense, insluitende Hoër Jongenskool se skoolhoof, Derek Swart, en onderwyser Richard Visagie, by die noodlotstoneel aangekom om hul medelye te betoon. Talle ruikers is op die toneel geplaas en kerse is ook aan die brand gesteek. Henré se ma, Litzea, het vandeesweek gesê haar seun was ’n groot man met ’n klein hart. “Hierdie week was dit hartroerend toe soveel mense by ons aangeklop het om te vertel hoe Henré hul lewens geraak het. “Hy het altyd sy man gestaan en was self-gedissiplineerd.” Verder het sy vertel dat hy in drie jaar 80 kg verloor het en hom toegespits het op fiksheid. Hy was diep gelowig en wou volgende jaar teologie studeer het aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy word oorleef deur Litzea, sy pa Henk en broer Hercu. Sy begrafnis vind Vrydag om 15:00 plaas by die Toringkerk. Litzea het versoek dat almal wat die begrafnis bywoon jeans en iets rooi van kleur moet aantrek. Verder vra sy dat elkeen ’n Bybelvers moet saambring wat in die lykkis geplaas sal word. ) Maandagmiddag is nog ’n jong man in motorongeluk dood. Curtley Timmy (18), wat verlede jaar ’n matriekleerling aan Klein Nederburg Sekondêr was, het gesterf toe die motor waarin hy en ’n vriend, Romano Martin (18), gery het en die pad verlaat het aan die voet van Dutoitskloofpas. Die voorval het plaasgevind toe daar beheer oor die motor verloor is op ’n skerp draai. Die voertuig het die pad verlaat en gerol. Timmy is op slag dood en Martin is met ernstige rug- en nekbeserings na Paarl Hospitaal geneem. Timmy was in sy skooldae ’n belowende dramastudent. Hy het na skool by Willy’s Begrafnisdienste gaan werk. Hy word oorleef deur sy pa James, en drie broers Jerome, Owen en Riaan. Sy begrafnis vind Sondag vanaf die huis te Evensstraat 9 plaas om 12:30 en daarna by die New Apostolic, Bloomsbury-gemeente om 13:30. ) Verlede Donderdagaand is ’n man van Wellington dood toe hy beheer oor sy bakkie verloor het in Agter-Paarl. Petrus Schoeman (31) van Brugstraat, se bakkie het gerol nadat dit ’n versperring langs die pad getref het. Hy is uit die voertuig geslinger en is op die toneel dood. Schoeman was saam met sy pa Johan, eienaar van Wynland Kompressors in Oosboschstraat, Paarl. Hy word oorleef deur sy ouers Johan en Margeret, broer Johan, susters Annie en Karien en verloofde Retha Conrad. ’n Roudiens vind vanmiddag om 14:00 plaas by Wellington Uitspan-saal by Lady Loch. * Three local people, including a matric learner of Paarl Boys’ High School, have died in various car crashes in the area.
More
News
|