Waar is die biblioteek dan heen?
2005-10-27
EK verwys na E Malan se brief “Hoekom geen skoolbiblioteek?” (13 Oktober). Die skoolbiblioteek waarna verwys word, het in die 16 jaar wat ek dit bedryf het, gegroei tot een van die uitstaande skoolbiblioteke in die destydse Kaapland.
Vir baie jare is die biblioteek deur personeel met ‘n liefde vir die saak bedryf as ‘n buitemuurse bedrywigheid.
Die aftakeling van ‘n versameling wat met oordeel oor so ‘n tydperk opgebou is, is betreurenswaardig.
Nou word die leerders agter my aangestuur, aangesien ek nou in beheer van die plaaslike CPUT-biblioteek is.
Ongelukkig moet ek die ouers wat gedink het dat hier uiteindelik ‘n uitkoms is, die slegte nuus meedeel dat die CPUT-biblioteek vir studentegebruik is.
Ja, die algemene CPUT-beleid laat lede van die publiek toe om die bronne binne in die biblioteek te gebruik (en teen ‘n betaling van R800 per jaar kan hulle selfs boeke uitneem).
Maar die hulp om die regte bronne te vind, kan nie ten koste van ons studente gegee word nie - en waar dit verlang word, is die algemene CPUT-beleid dat dit teen R150 per uur sal geskied.
In die dae van toenemende brongebaseerde onderwys, moet skole weer ernstig besin oor hulle houding tot inligtingsgeletterdheid.
Die Internet is ‘n wonderlike bron - maar slegs vir sekere take - en kan nie daardie noodsaaklike element van elke opvoedkundige instelling - die biblioteek - vervang nie.
Michiel Moll
More
News
|