EK kry die families van die kinders wat in die Hoofstraat verongeluk baie jammer, julle het my innige simpatie. Maar wanneer gaan ons ophou toesmeer en reguit praat? Wanneer gaan die mense begin leer?
Ek sê nie dat Henré Rossouw onder die invloed van drank was nie, maar almal wéét dat meeste van die tragiese ongelukke wat in die Hoofstraat gebeur, as gevolg van drank en hoë spoed was. Hoekom word dit nie gesê nie? Nou smeer ons dit toe, sodat nog kinders in die Hoofstraat kan verongeluk, omdat ons nie leer nie.
Ek het gewerk vir ’n wrakhandelaar wat handel in hoë spoed ongelukke. Die Mercedes waarin die Rossouw-seun dood is, het nie 60 km/h gery nie.
Dis die spoedbeperking in die Hoofstraat, mense. Dag en nag. Of daar wetstoepassers is of nie. Dis elkeen se eie verantwoordelikheid.
As jy wil jaag, gaan Killarney toe. As jy wil dronkbestuur, bly by die huis en speel Need for Speed. Maar bly van die pad af.
Is dit te veel gevra van ouers om hulle kinders te leer om verantwoordelikheid aan die dag te lê? As jy ’n ongeluk teen 60 km/h maak, gaan dit nie naastenby so ’n impak hê nie.
Dronkbestuurders sien snags die Hoofstraat aan vir ’n renbaan. Dis ’n wonderwerk dat nie meer voetgangers (veral kinders) in die Hoofstraat doodgery word nie.
Hoekom word ID’s nie gevra by die drinkplekke nie? Want so maak hulle meer geld. Gaan die kroegeienaar se geld jou kind terugkoop?
Ek probeer nie om enigiemand in die gesig te vat of mense valslik te beskuldig nie, maar ons moet die realiteit besef.
Moeg vir ongelukke