Dit is die waarheid oor die ondersoek na Drakenstein Munisipaliteit se amptenare
Dit is die waarheid oor die ondersoek na Drakenstein Munisipaliteit se amptenare 2011-09-08
ALHOEWEL dit nie die norm sal wees om op elke brief per verdere gepubliseerde brief te reageer nie, verdien die gepubliseerde brief van Rdl C Manuel in die Paarl Post van 1 September 2011 ’n regstelling om ’n moontlike verkeerde persepsie oor die proses betrokke met die ondersoek na die twee senior Drakenstein- amptenare, uit die weg te ruim.
Die feitlike situasie is as volg:
Die ouditeur-generaal se verslag na die ouditproses uitgevoer, word opgevolg deur ’n amptelike skrywe aan die senior bestuur waarin aanbevelings gemaak word en pertinente gevalle van onreëlmatigheid vir verdere ondersoek uitgewys word. Die April 2011 staatskoerant bevat gebiedende voorskrifte aangaande verpligte ondersoeke van enige uitgewysde of gerapporteerde onreëlmagtighede van munisipale en senior bestuurders.
Die Munisipale Raad en die Burgemeester het derhalwe nie ’n keuse nie en moet ’n ondersoek na die onreëlmatighede soos deur die oudit-generaal se verslag uitgewys, gelas.
Die staatskoerant se gebiedende voorskrifte het die doel om onreëlmatighede en korrupsie vas te vat en lede van senior bestuur wat hieraan skuldig bevind word, te verhinder om in ander staatsinstellings en munisipaliteite ontplooi te word.
Onafhanklike ondersoekers is derhalwe aangestel om die gerapporteerde onreëlmatighede te ondersoek en dan aanbevelings aan die Raad te doen.
Geen amptenaar is nog skuldig bevind nie en die gelaste ondersoeke het slegs ten doel om nakoming van voorskrifte te verseker en om uitklaring en afhandeling van die bespiegelinge te verkry.
Die aangeleentheid is uiters vertroulik en met privaat vooraf kennisgewing van die proses aan die betrokke amptenare hanteer. Die enigste amptelike openbaarmaking is aan die media per die persverklaring gedoen.
Die Raad se eenparige optrede in die verband, toe die ANC uitgestap het, was ’n verbintenis tot skoon regering en nakoming van gebiedende voorskrifte.
Ongelukkig is Raadsbesluite in openbare belang en kan die identiteit van die individue net beskerm word tot en met die formele Raadsbesluit.