Die boom was 300 jaar hier, en julle?
2005-10-27
EK rig hierdie brief aan die persoon wat nie die moed gehad het om eers die feite rakende die akkerboom voor ons huis op die hoek van Hoof- en Rosenburgstraat, waarvan die lewensduur so vinnig kort geknip is, op Vrydag 21 Oktober vas te stel nie.
Ons het geen insae gehad in sy afsterwe nie. Ek stem egter saam dat dit verdag lyk aangesien ons in proses is om ‘n nuwe muur te bou.
Die ou grote het ‘n stadige dood gesterf tot Donderdag 20 Oktober toe hy ‘n reusetak afgegooi het, wat ook ons huis getref het met die valslag. Hiervoor het ons, vanweë sy hoë ouderdom, die ou grote vergewe.
Gelukkig was daar geen lewensverlies of enige beserings nie.
Kundiges het die boom ondersoek en bevind hy sal dalk nie ‘n verdere twee weke in wind en weer op sy een been kan staan nie en dat dit ‘n gevaar inhou vir padgebruikers sowel as voetgangers. Ek praat nie eers van ons huis of dat bewoners snags wanneer dit reën en die wind waai, oop oë lę en probeer slaap nie. Dit sal “boomskrywer” sekerlik nie pla nie.
Soos oom Oubaas sal sę: Moenie ‘n klip teen die boom gooi voor julle nie die werklike stand van sake ken nie.
Ter nagedagtenis: Drakenstein Munisipaliteit het belowe hulle sal so spoedig moontlik twee “nuwelinge” aan ons skenk. Hou die sypaadjie dop!
Ek sal verstaan dat “boomskrywer” nie verskoning vra vir die woorde wat op die boom geskryf is (“Boom was 300 jaar hier en julle?”) nie. Ek sou ook te skaam gewees het. In die gees van vriendskap, kom drink ‘n koppie tee saam met ons onder ons nuweling se takke.
Dankie aan Drakenstein Munisipaliteit vir hul begrip om ‘n balans te handhaaf tussen die bewaring van ons pragtige akkerbome en die veiligheidsrisiko wat ou bome inhou asook hul vinnige optrede in hierdie geval.
Charlotte le Grange, Hoofstraat 141, Paarl
More
News
|