Jong vrou ernstig beseer
2011-09-08
Lise Beyers
’n JONG vrou het Saterdagoggend ernstige kopbeserings opgedoen tydens ’n motorongeluk in die Bergrivier Boulevard, Paarl. Megan Pienaar (19) het verlede jaar by Hoër Meisieskool Paarl gematrikuleer. Sy was die aand saam met twee vriende in haar Toyota Tazz in die Boulevard onderweg toe sy beheer oor die voertuig verloor het en teen ’n paal gebots het naby Brugstraat. Die geweld van die slag was so groot dat die enjin van die motor uitgeruk is. Die ander twee insittendes is lig beseer. Megan is later die oggend na die Tygerberg Hospitaal neuro-afdeling geneem weens hewige bloeding op die brein. Sy is steeds in die intensiewe sorgeenheid, maar het teen Dinsdag stadig haar bewussyn begin herwin. Haar pa, Pine Pienaar, het gesê dat hy en sy vrou, Arlene, die afgelope week angswekkende oomblikke beleef het, maar is nou baie verlig dat Megan goeie reaksie begin toon. “Haar oë is oop en sy druk ons hande as ons haar hand vashou. “Ons is baie positief dat sy ten volle sal herstel.” Megan het vanjaar by ’n troeteldierwinkel in die Paarl Mall gewerk voordat sy volgende jaar toerisme by Boland Kollege sal studeer. * A young Paarlite sustained serious head injuries on Saturday morning, when the vehicle she was driving crashed into a lamp-post.
More
News
|