NA aanleiding van die berig in die Paarl Post op Donderdag 8 September, wil ek graag van hierdie geleentheid gebruik maak om ’n paar punte uit te lig rondom die 2011 Cultivaria-kunstefees.
Enige vrese rondom die bekendmaking van kredietkaartbesonderhede is totaal ongegrond, aangesien die Cultivaria- besprekingstelsel heeltemal apart van die elektroniese kommunikasie-aspek van die webwerf funksioneer.
Die Cultivaria-webwerf dra akkreditasie van Thawte Security, een van die wêreld se vooraanstaande internetsekuriteitsmaatskappye gestig deur Mark Shuttleworth.
Ons SSL-sertifikasie verseker die veiligheid van finansiële transaksies en verhoed enige risiko aan kopers.
Tweedens, die oorsprong van die tegniese fout het by Social Code ontstaan, ’n maatskappy wat deur die fees aangestel is om elektroniese ondersteuning aan die webwerf te lewer.
Cultivaria het reeds as gevolg van die probleem wat ontstaan het, ons kontrak met die maatskappy opgeskort en is in samespreking met ’n nuwe diensverskaffer om die e-pos en sms diens in die toekoms te hanteer.
Hierdie kommunikasiekanale vorm ’n kardinale aspek van die fees, aangesien ons hiermee inligting rondom spesiale vertonings, promosies en kommentaar van kunstenaars aan feesgangers deurgee.
Dit bly natuurlik die keuse van elke Cultivaria-kliënt om te kies of hulle kommunikasie van ons wil ontvang of nie.
As organiseerders is ons baie opgewonde oor die verskuiwing van die Cutlivaria-feesterrein na die terrein by die Paarl-amfiteater.
Hierdie verskuiwing beloof om ’n vars inslag vir die 2011 fees te lewer. Die terrein bied aan feesgangers ‘n ongekende toeganklikheid aan al Cultivaria se aanbiedings
Ten slotte bied ek my verskoning aan vir enige ongerief veroorsaak deur die e-pos kontrakteur.