Sabotasie op plase
2011-09-15
Lise Beyers
SABOTASIE! Dis wat oud ANC-raadslid vir die Drakenstein, JT Basson, die voortdurende diefstal van metaal op plase beskryf. Basson was onlangs in die spervuur nadat plaasbewoners van die Leliefontein-plaas in Klein Drakenstein, wat deur Basson gehuur word, hom verkla het by die Wes-Kaapse regering omdat hulle watertoevoer onklaar geraak het. Maar, sê Basson, vir die soveelste keer is die ondergrondse koperkabels wat die waterpomp dryf, gesteel. Hierdie keer sommer die pomp ook. “Die meeste inwoners van die huise werk nie vir my nie, maar ek voorsien hulle van water asook ’n dak oor hul koppe. Keer op keer word die kabels gesteel en ek moet uit my eie sak vir die herstel daarvan betaal.” Basson het bygevoeg dat hy ná die mees onlangse diefstal nie die pomp en kabels onmiddellik vervang nie, want hy wag dat die inwoners die skuldiges aan hom uitwys. Hy sê ook dat hy nou die Drakenstein Munisipaliteit versoek het om die bestuur van die watervoorsiening van hierdie wonings oor te neem wanneer hy die pomp vervang, want hy kan dit eenvoudig nie bekostig nie. Beide die behuisingsnood asook die koperdiefstal is niks nuut in die landelike gebiede van Drakenstien nie. “Daar is nie behuisingsgrond in die dorpe nie,” sê Basson. “Deesdae werk talle plaasbewoners nie meer op plase nie en daar moet ’n antwoord gesoek word. Daar kan nie verwag word dat die boer vir ewig hierdie verantwoordelikheid moet dra nie.” Basson sê dat hy en sy mede-boere in dié gebied graag wil sien dat die oop stuk grond noord van Boland Park vir ontwikkeling beskikbaar gestel word vir behuising van mense wat op plase woon. Koperdiefstal is die ander probleem wat die landboubedryf jaarliks miljoene rande uit die sak jaag. Basson self het sedert Mei vanjaar R100 000 se skade gely.
More
News
|