Waar is ons huise?
2005-03-24
Anne Kruger
DIE behuisingstekort op Wellington het verlede week gelei tot ’n betoging teen die Drakenstein Munisipaliteit.
Inwoners het die munisipale gebou beset uit protes teen die gesloer met behuising op dié dorp.
Volgens Kaatjie Williams bly sy al 15 jaar in ’n opslaanhuis in die “noodkamp” terwyl mense wat lank ná haar op Wellington kom woon het, al huise gekry het.
“Toe huise in Weltevrede, Carterville en New Rest gebou is, is ons ook huise belowe - maar die huise het nie gekom nie, en ons subsidies is glo weg.
“Volgens die burgemeester is die geld op. Wanneer gaan ons gehelp word? Wat het van die waglys geword?” het die inwoners gevra.
“Verlede week het hulle met luidsprekers uitgesaai dat ons na die Colibrisaal moet kom om meer oor behuising te verneem. Toe ons daar kom, is dit net vir Mbekweni-mense bedoel wat by die waterblommetjiepanne gaan huise kry. Wat van ons?” vra Williams.
“Aan ons is toe gesê ons moet Saron, Gouda en Hermon toe trek as ons huise wil hê.”
Daar is ook verskeie ander griewe, soos mense wat nie voldoende vullisverwydering en water het nie, en dienste waarvoor tot R400 per maand opgedok word.
Die betogers het die ou raadsaal op Wellington vir ure beset, omdat geen senior amptenaar beskikbaar was om hulle te woord te staan nie.
Volgens ’n munisipale woordvoerder het uitvoerende raadslid Arthob Petersen verlede week met inwoners van die Noodkamp vergader en is uitgewys dat Projek 1068 in Vanwyksvlei wat deur die destydse Munisipaliteit Wellington begin is, as gevolg van ’n reeks tegniese probleme gestaak is. Tans word Projek 1068 as ’n "geblokkeerde" projek beskou.
Intussen is verskeie samesprekings deur amptenare en raadslede van die Munisipaliteit Drakenstein met die direkteur van Behuising van die Provinsiale Regering van die Wes-Kaap (PRWK), asook ander relevante amptenare van die Provinsiale Regering gevoer. Daar is reeds in Oktober begin met die insameling van data van die begunstigdes van Projek 1068.
Weens die stadige en onbevredigende reaksie van die kant van die begunstigdes, kon die inligting egter nie ingesamel word nie en gevolglik kon ’n verslag aan die provinsiale behuisingsdepartement nie afgehandel word nie.
Om stukrag aan dié proses te verleen, is die Colibrisaal, sowel as die behuisingskantoor te Pentzstraat, Wellington, gister beskikbaar gestel om die nodige inligting van die begunstigdes te verkry.
Die Colibrisaal sal ook na ure vanaf 18:00 tot 20:00 deur munisipale behuisingsamptenare gebruik word om begunstigdes te spreek.
’n Spesiale komitee is ook saamgestel om ander behuisingsverwante aangeleenthede soos toekomstige projekte, agterplaasbewoners, tariewe vir dienste en gesondheidsaspekte te bespreek.
Inwoners van Pholapark in Mbekweni het ook vandeesweek oor behuising betoog (sien bl 3).
* Wellington residents protested against the housing shortage last week.
More
News
|