Minister steel harte
2005-11-03
Padda op ’n buiteplaas; Dit is weer lente Hoe gaan dit? Baie goed dankie...
DIE gaste by die viering van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se 30ste bestaansjaar sit verbaas en kyk na dié klein vroutjie vol teenstrydighede.
Sy is Xhosa van geboorte, haar van is Botha, sy lewer ’n toespraak in foutlose, akademiese Afrikaans en nou skielik trek sy los met Afrikaanse rympies uit haar kinderjare.
Sy is Ntombazana Botha, adjunk-minister van Kuns en Kultuur, en die hoofspreker by die taalvieringe.
Die uitgelese gehoor reageer spontaan op haar skoolherinneringe en kort voor lank word daar lustig gesing aan ou volkswysies soos Jan Pierewiet en Dit is heerlike Lente.
“Sy het in hierdie paar minute meer gedoen vir nasiebou as wat al die politici saam nie in tien jaar kon doen nie,” het stadsraadslid Deon Swart agterna opgemerk.
Minister Botha het in haar toespraak gesê die vryheid om onsself uit te druk in ons eie taal is een van die wonderlike presente van die nuwe demokrasie.
Sy het mense aangemoedig om soveel moontlik tale aan te leer: “Dit sal kommunikasie verbeter en almal sal ’n aandeel hê aan ’n Suid-Afrika wat werklik aan almal behoort."
Edna van Harte, voorsitter van die museum raad, het gesê daar moet gekyk word na die proses wat Afrikaans volg om voort te bestaan.
Dié kennis moet met ander gemarginaliseerde tale gedeel word.
More
News
|