Groot planne vir Paarl-fees in 2006
2005-11-03
‘n PAARLSE Fees wat so groot kan word soos die Klein Karoo Kunstefees, word beoog van September volgende jaar, tot voordeel van die hele dorp om besoekers van oral te lok.
Die organiseerders van die fees, Gerhard Meyer en Uys van der Hoven, nooi alle belangstellendes na ‘n loodsvergadering op Donderdag 10 November om 16:00 by Oude Paarl Hotel.
“Ons is van mening is dat dit ‘n unieke Paarl fees moet wees met die grootste moontlike blootstelling vir plaaslike produkte en nywerhede.
“Die fees moet meertalige kunste met finesse aanbied (musiek, toneel en kabaret), maar kan ook uitgebrei word om ander aktiwiteite soos sport in te sluit soos pretdraf, marathon, driekamp en fietsry.
“Paarl het die Paarlberg vir toepaslike sportbedrywighede (bergfiets, staproetes, abseil) asook die Bergrivier waarop ook sportaktiwiteite gereël kan word (kano’s, modelbote).
“Die fees wat beoog word, sal plaasvind vanaf 22 September tot 1 Oktober in 2006 en die naam Paarl Festivitas is reeds by die registrateur van maatskappye gereserveer.
“Slegs Paarlse wyne en ander plaaslike produkte sal tydens die fees bemark mag word en slegs plaaslike borge sal betrek word.”
Vir navrae, skakel Gerhard Meyer op 872-1002 of Uys van der Hoven by 860-1240.
More
News
|