Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Plaaslike kunstenaar toer wyd

Plaaslike kunstenaar toer wyd
 
2005-11-03


DIE bekende Wellingtonse kunstenaar, George Meyer, vertrek vandeesweek op ’n kunstoer met ’n kinkel.

Hy beplan om van die Boland tot bo in die noorde te toer en langs die pad straatuitstallings van sy werk te hou.

George gaan meeste van die pad te voet aflê, maar sal darem ook nie nee sê vir ’n saamrygeleentheid van ’n barmhartige samaritaan of twee nie.

Sy tog eindig in Middelburg en Witbank, by die skole waar hy studeer het.

So tussen die kunsuitstallings deur gaan hy ook nog geld insamel vir Kindersorg.

Indien iemand hom wil moed inpraat of sommer net wil weet waar hy is, skakel hom op 073-390-1517.

Meyer se fyn sketse van Bainskloof het verlede jaar op die toerismeburo se lessenaarformaat-jaarprogram gepryk.

’n Landelike toneel wat hy geskilder het, pryk ook op Woolworths se duursamer inkopiesak-ke.

George is ’n bekende gesig op Wellington, waar hy die strate invaar met sy sysak en tekenboek om met potlood- en ink-sketse te maak van die dorp se ou huise en plase.

Baie van sy werk het hy oor die jare vir ’n appel en ’n ei verkoop, maar ’n dik pak daarvan in sy huis in Newton is bewys van die waardevolle sketsoefening wat hy opgedoen het.

Al wou hy sedert sy kinderdae ’n kunstenaar word (of, as alternatief ’n polisieman!) is dit eers die afgelope drie, vier jaar wat George begin naam maak het.

Plaashuise, vrolike mense, windpompe, ’n landelike toneel en werfdiere soos hoenders en honde vloei deur sy werke - of hy dit nou met potlood, akriel of waterverf aanpak.

Die beelde het hul oorsprong in sy grootworddae in Distrik Ses en McGregor, en later ook Newcastle, Witbank en Kraaifontein. En natuurlik, sy Wellingtonse lewenswêreld van die afgelope 19 jaar.



More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za